Proteas betaal duur vir verbroude kanse

Mark Boucer. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Mark Boucher sit seker met die hande in die hare.

Die veglustige oudpaaltjiewagter het in sy speeldae nooit tou opgegooi nie en hy het gereeld vuur met vuur beveg – wie onthou almal sy wêreldrekord-vennootskap destyds om die negende paaltjie van 195 lopies saam met Pat Symcox teen Pakistan?

Daarbenewens het hy ook die wenlopies in die 438-eendagwedstryd teen Australië op die Wanderers geslaan.

Maar as hoofafrigter van die Proteas moes hy hulpeloos vanuit die kleedkamer na die Proteas se geploeter teen die einste Pakistan toekyk.

Die Suid-Afrikaners het vir Pakistan hul eerste reeksoorwinning in 18 jaar teen die Proteas op ’n skinkbord gegee. Uiters swak veldwerk, gereelde kolfwerk-ineenstortings en ’n onvermoë om van die tuisspan se stertkant-kolwers ontslae te raak, was die perfekte bestanddele vir ’n loesing van 2-0.

“Die maniere waarop ons die wedstryd se groot oomblikke hanteer het, het ons beslis op die agtervoet geplaas,” het Boucher gesê nadat Pakistan gister die tweede toets met 95 lopies gewen het.

“Ons het nie goed gekolf nie en ons het nie goed veldwerk gedoen nie. Ons boulwerk was die enigste ligpuntjie.”

Die uitgesproke Darryl Cullinan was vanuit die kommentatorshokkie veral krities oor die Proteas se vrot veldwerk. Volgens Boucher het verbroude vangskote die Suid-Afrikaners 150 lopies in die wedstryd gekos.

Binne die bestek van ’n paar aflewerings het die Proteas vir Mohammad Rizwan en Faheem Ashraf deur hul onsekere vingers laat glip.

Rizwan het uiteindelik 115 lopies gemoker en hy het ’n sleutelrol in Pakistan se tweedebeurt-telling van 298 gespeel.

“As ons daardie kanse maar net benut het, sou hul telling 76/7 gewees het en ons kon hulle dalk vir 120 uitgehaal het.”

Maar ’n wenteiken van net meer as 200 lopies sou dalk ook ’n te hoë hekkie vir die Protea-kolwers gewees het. Die span het laas in 2011 suksesvol ’n wenteiken van meer as 200 lopies gejaag.

Iemand soos Aiden Markram het weliswaar sy eerste honderdtal in Asië geslaan – ’n skitterende 108 in die Proteas se tweede beurt. Maar hy het egter sy paaltjie weggegooi toe hy ’n aflewering van Hasan Ali netjies na die glippe gestuur het.

Dit was die begin van die einde vir die Proteas: van 241/3 na 274 almal uit.

“Elke keer wanneer dit lyk asof ons mooi vordering maak, het ons dinge net weggesmyt,” het Markram gesê.

“Dit is nou tyd dat ons uit ons foute leer en nie knaend in dieselfde slaggate trap nie.”

En met die toetsreeks teen Australië wat vir eers afgelas is, het die Proteas baie tyd om ordentlik vir hul volgende reeks voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christo ·

‘Boucher sit seker met sy hande in sy hare……………………’ Shame, miskien moet hy maar op sy kniegie gaan sit en sy vuisie in die lug hou. Dalk help dit.

Hennie ·

Wie is die Proteas nou weer? ‘n Derde rangse eens wenspan wat deur politiek getransformeer is.

JN ·

Toemaar Boucher binnekort het jy niks meer hare nie… Die BLM simptoom het maar so n nare nadraai effek op alle vlakke in die piesang republiek…Tog so lekker om te sien hoe die mannetjies pakslae kry…hehehe..
Eischhh!

Die Wolf ·

Word dalk doelbewus gedoen om hom in n swak lig te plaas.

Niklaas ·

In sy dae van glorie was daar niks so irriterend soos die BLM en knie buigende brigades nie. Toe het daardie span nog ondersteuners gehad ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.