Proteas bly Nortjé-loos teen Bangladesj

Anrich Nortjé . Foto: Indrarnil Mukherjee/AFP.

Die Proteas sal steeds sonder Anrich Nortjé in die komende eendagreeks teen Bangladesj wees. Die blitsige snelbouler is nog besig met rehabilitasiewerk nadat hy sy heup verlede jaar beseer het.

Nortjé het die tuisreeks teen Indië misgeloop, terwyl hy ook nie deel van die onlangse toetsaksie in Nieu-Seeland was nie.

Volgens Victor Mpitsang (keurderbaas) is die Protea-spanbestuur nog onseker oor wanneer die 28-jarige Oos-Kapenaar weer beskikbaar sal wees.

Dr. Shuaib Manjra, Krieket Suid-Afrika (KSA) se mediese hoof, het in ’n onderhoud met ESPN Cricinfo gesê dat Nortjé reeds drie ortopediese spesialiste besoek het.

“Anrich is nog nie gereed vir die Bangladesj-reeks nie, terwyl daar ook nog onsekerheid oor sy deelname aan die Indiese Premierliga is. Hy is fiks en hy werk baie hard, maar kon in die afgelope drie maande kwalik boul,” het Manjra gesê.

Nortjé se vuur en aggressie maak van hom ’n belangrike skakel in die Proteas se eendag- en toetskrieketmasjien. Hy was verlede jaar as KSA se speler van die jaar aangewys, terwyl hy ook met ’n paar skittervertonings in die onlangse T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate vorendag gekom het.

Hy het toe sy aansien as een van die wêreld se voorste snelboulers gestand gedoen. Sy nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 11,55 het gesorg dat hy in die Internasionale Krieketraad se span van die toernooi opgeneem is.

In Nortjé se afwesigheid sal Kagiso Rabada oudergewoonte weer die boulaanval lei, terwyl Lungi Ngidi ook genoegsaam van sy rugbesering herstel het.

Dan sal Aiden Markram weer sy spelpeil in die witbalkrieketformaat wil vind, want in toetse is die skoonveld.

Tog vertoon die 27-jarige kolwer heel skaflik in pajama-krieketwedstryde: Hy was saam met Nortjé in die IKR se T20-wêreldbekerspan opgeneem.

Die reeks begin op 18 Maart.

Protea-groep: Temba Bavuma (kaptein), Keshav Maharaj (onderkaptein), Quinton de Kock, Zubayr Hamza, Marco Jansen, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi en Kyle Verreynne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.