Proteas bou sterk aan ʼn reeks-oorwinning

Foto: Official CSA, Twitter

Die vierde en laaste kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië het Vrydag om 10:00 op die Wanderers in Johannesburg begin. Suid-Afrika het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Dit was ʼn goeie besluit, want aan die einde van die dag het die Proteas sterk gestaan op 313/6 (88 boulbeurte).

Die Proteas loop met 2-1 voor in die reeks en al eindig hierdie vierde toets onbeslis sal Suid-Afrika steeds die reeks inpalm. Die aanslag sal dus wees om soveel moontlik lopies op die telbord te plaas wat geen kans aan die Aussies gee om te kan wen nie.

In die eerste sessie het die Proteas net die paaltjie van Dean Elgar (19) verloor en teen middagete was Suid-Afrika op 88/1

Tydens die tweede sessie het die Proteas die paaltjie van Hashim Amla (27) moes prysgee om hul eerste beurt-telling na 173/2 te neem.

Ná tee het Markram en de Villiers die telling geneem na 247/2 voordat twee paaltjies in ʼn ry geval het. Markram was uit met sy hoogste toetstelling van sy loopbaan naamlik 152 (4 x 17 en 1 x 6) terwyl Faf du Plessis met sy eerste bal been voor paaltjie betrap is vir nul.

Soos met die vorige toetse het die Aussies in die laaste sessie oorheers en nog twee paaltjies geneem met die telling op 299. De Villiers (69) en Rabada (0) moes die lang paadjie terugstap kleedkamer toe.

Teen uitskeityd was Suid-Afrika op 313/6 (88 boulbeurte). Bavuma met 25 en de Kock op 7 sal môre voortkolf. Met die bal het Pat Cummins drie paaltjies platgetrek vir die verlies van 53 lopies.

Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede en derde toetse. Die Proteas loop met 2-1 voor in die reeks van vier toetse. Die tweede dag se spel is geskeduleer om Saterdag om 10:00 op die Wanderers te begin.

Klik hier vir meer inligting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.