Proteas dié keer die reën en wiskunde se baas

Reeza Hendricks se onoorwonne 83 het die wedstryd in die Proteas se guns geswaai. Foto: Cricinfo.

Menere Duckworth en Lewis was nie altyd Suid-Afrika se beste vriende nie. In 1992 het hul tellingaanpasstelsel gesorg dat die Proteas ’n onwaarskynlike 22 lopies van een aflewering moes jaag om vir Engeland in die wêreldbeker-halfeindstryd te klop. En wie sou ooit Shaun Pollock se Durban-blaps in 2003 vergeet, toe die span die wiskundepot lelik misgesit het teen Sri Lanka?

Gisteraand op SuperSportpark was egter een van die min kere waar dié omstrede stelsel in die Proteas se guns getel het, toe hulle Pakistan met 13 lopies gewen het.

Faf du Plessis en sy span moes 318 lopies kry om die derde eendagwedstryd in die reeks toe beklink, maar toe ’n Hoëveldse donderbui vir die tweede keer die kragmeting onderbreek, het die skeidsregters genoeg gehad en die wedstryd is ná 33 boulbeurte in die Proteas se kolfbeurt gestop.

Reeza Hendricks (83*) en Du Plessis (40*) se vennootskap van 108 lopies om die vierde paaltjie het gesorg dat die tuisspan stewig in die saal op 187/2 gestaan het. Volgens die wiskundiges was hulle toe 13 lopies vóór Pakistan.

Hendricks se berekende kolfbeurt was uiteindelik die verskil tussen wen of verloor.

Vroeër het die Proteas gesukkel in die veld. Hulle het vyf vangkanse deur hul vingers laat glip en Pakistan het 91 lopies in die laaste 10 boulbeurte geslaan.

Imam-ul-Haq (101) het sy vyfde eendaghonderdtal aangeteken, terwyl Babar Azam en Mohammed Hafees se vyftigtalle bygedra het tot Pakistan se 317/6 ná hul toegelate 50 boulbeurte.

Azam het weer beïndruk met sy kolfwerk en daar is vooraf baie gemaak van sy tweestryd met Dale Steyn.

Steyn (2/43) het egter dié keer die laaste gelag toe hy die talentvolle Azam met ’n stadiger aflewering geflous het en hom been-voor-paaltjie betrap. Hy sou ook vir Hafeez vir die 16de keer uitgehaal het, maar Hashim Amla – wie deesdae meer mistas as raakvat – het die vangkans in die glippe berou.

Andile Phehlukwayo – speler van die wedstryd in die twee spanne se vorige ontmoeting – het hard teruggekom aarde toe. Die veelsydige speler het gesukkel met die bal (10-0-71-0)

Die vierde wedstryd is môre op die Wanderers in Johannesburg

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.