Proteas: Die paar ervare manne sal hul kant moet bring

Aiden Markram – hy sal hopelik sy slag wys. (Twitter @AidzMarkram)

Die enkele ervare kolwers wat in die Proteas se span oorgebly het na die rits beserings sal Woensdag op Suid-Afrika se gunsteling-eendagveld, Nuweland, hulle kant behoorlik teen Indië moet bring.

Die derde eendagwedstryd moet deur die Proteas gewen word as hulle nog die reeks wil beklink – en tans lyk dit na ʼn onbereikbare droom.

Sonder Faf du Plessis, AB de Villiers, Quinton de Kock en Temba Bavuma is die Proteas se kolflys baie, baie dun.

Op Nuweland, waar Suid-Afrika ʼn eendag-wenrekord van 25 uit 33 wedstryde het, is Hashim Amla boonop nie op sy beste nie. In ses wedstryde daar het hy net 191 lopies aangeteken, wat twee vyftigtalle insluit. Die ander vier beurte was dus maar so-so.

JP Duminy, wat steeds as eendagkolwer ʼn groot rol te speel het en ʼn steunpilaar kan wees, sal egter uit posisie op nommer drie moet kom kolf – vreemd vir hom en allermins ideaal vir die span. Nuweland is ʼn goeie jagveld vir hom en hy het in sy agt beurte daar drie vyftigtalle in sy 301 lopies teen ʼn gemiddelde van feitlik 38 aangeteken.

Die jong kaptein Aiden Markram, onder druk na sy reeks swak onlangse tellings, sal seker met Amla die beurt begin, en die amperse nuweling Kaya Zondo sal die sleutelrol op nommer vier in sy tweede internasionale wedstryd moet vervul.

Dit gaan nie maklik wees met die onervare kolflys, sonder vertroue, om die gemiddelde telling van 311 te haal vir die span wat eerste op Nuweland kolf nie.

Benewens die tekort aan gesoute internasionale spelers is daar die wesenlike feit dat die Suid-Afrikaanse kolwer deur onvermoë of temperament – die laaste moontlik juis weens die onvermoë – nie teen gewrigsdraaiers bestand is nie.

Om wild en sonder oorleg te begin slaan as sake skeefloop, sal wéér nie slaag nie.

Dit is niks nuuts vir Suid Afrika se kolwers deur die jare om teen gewrigdraaiers te sukkel nie, maar hierdie keer is dit noodsaaklik dat hulle op alle silinders moet vuur om die seswedstryd-reeks lewendig te hou.

Indië loop reeds na twee wedstryde met 2-0 voor.

Die Proteas sal moontlik benewens die plaasvervanger paaltjiewagter in De Kock se plek, Heinrich Klaassen, ook die ervare maar wisselvallige Farhaan Behardien kies om die kolflys bietjie meer lyf te gee – of dan effens meer diepte te gee. Die draaier Tabraiz Shamsi sal waarskynlik weggelaat word.

Dit laat vier spesialis-boulers plus Zondo, Duminy, Behardien en Markram wat die vyfde boulers se las sal moet verdeel.

Die moontlike span –

1 Hashim Amla 2 Aiden Markram (kapt.) 3 JP Duminy, 4 Khaya Zondo, 5 David Miller, 6 Farhaan Behardien, 7 Heinrich Klaasen, 8 Chris Morris 9 Kagiso Rabada, 10 Morne Morkel 11 Imran Tahir.

♦ Die wedstryd op Nuweland begin om 13:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

SA kan nie draaiers speel nie. So ons moet net sorg dat ons baanblaaie voorberei wat nie draaiers sal bevoordeel nie. Daar is niks verkeerd daarmee nie. In Indië verloor ons meestal, want hulle blaaie bevoordeel draaiers. So hier mag ons weer snelboulers bevoordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.