Proteas glo die gunstelinge teen NZ

Dean Elgar (Protea-toetskaptein) en Tom Latham (Nieu-Seeland se waarnemende kaptein). Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Laat ons nie doekies omdraai nie: Nieu-Seeland ry tans op die kruin van die krieketgolf.

Die Swartpette speel in die een eindstryd ná die ander, terwyl hulle ook die septer op die rooibalkrieket-verhoog swaai nadat hulle verlede jaar vir Indië met agt paaltjies in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap in Southampton geklop het.

Maar of jy dit nou wil glo of nie; wanneer hulle toetskrieket teen die Proteas speel, ontwikkel hulle uit die bloute ’n achilleshiel.

Volgens Cricinfo se statistieke kon die Kiwi’s nog nooit ’n toetsreeks teen Suid-Afrika wen nie. Uit die 45 toetse wat die twee lande sedert 1932 teen mekaar gespeel het, was die Nieu-Seelanders nog net vier keer aan die wenkant gewees.

Dit is hul swakste vertoningsrekord teen enige land.

Boonop sal hulle nou ook die Proteas sonder die diens van staatmakerspelers soos Ross Taylor en Kane Williamson moet aanvat – Taylor het onlangs sy uittrede aangekondig, terwyl Williamson nog nie voldoende van ’n elmboogbesering herstel het nie.

Ja, gaan jy sê, maar Nieu-Seeland spog met ’n uitstekende boulaanval. Tim Southee neem gereeld paaltjies, Matt Henry is lekker vinnig, terwyl Neil Wagner ’n aggressiewe knaap is.

Tog het Dean Elgar en Kie glad nie vir Jasprit Bumrah, Mohammad Siraj en Mohammed Shami in die onlangse reeks teen Indië teruggestaan nie.

“Met alle respek, Nieu-Seeland se boulers is ’n bietjie stadiger as wat Indië se snelaanval was. Maar die Kiwi’s weet beslis hoe om die bal die praatwerk op hul tuisvelde te laat doen,” het Elgar gesê.

Brendon McCullum, die kougomkouende voormalige Swartpet-paaltjiewagter, meen dat die Proteas die gunstelingspan is om met die reekslouere weg te stap.

Volgens McCullum is die Proteas onder Elgar se leierskap ’n perd van ’n ander kleur – rateltaai en gereed vir enige tweestryd.

“Ek dink dit gaan ’n ongelooflike reeks wees. Ek voorspel dat dinge dalk gelykop kan eindig, maar Suid-Afrika is met ’n kortkop die gunsteling.”

Die eerste toets begin Donderdag in Christchurch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thom ·

Seker en , die ” snelaanval ” van Indië is ‘n klomp ” medium pacers ” wat lekker kom vakansie hou het __ nie een van hulle sal on die span van Australië plek kry nie !

Willi ·

Sal maar net lees hiervan maar nooit weer sal ek hulle ondersteun of kyk nie, juis as gevolg van die KSA en ander sport soorte se rasiste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.