Proteas het uiteindelik weer ’n T20-trofee

Wiaan Mulder vier Andre Russell se paaltjie. Foto: Randy Brooks/AFP.

Die Proteas het uiteindelik hul eerste T20-reekssege in ’n hele paar probeerslae behaal toe hulle die Wes-Indiese Eilande met 25 lopies in die laaste kragmeting van die toer geklop het.

Kort nadat hy die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf, is Temba Bavuma vir ’n nulletjie deur nog een van die Windies se immergroen-spelers – die 39-jarige Fidel Edwards – uitgehaal.

Quinton de Kock (60 van 42 balle) het egter vir eens ’n goeie bondgenoot in Aiden Markram (70 van 48 balle) gevind en saam het hulle Suid-Afrika se skip na ’n veilige hawe gestuur met ’n aanvallende vennootskap van 128 lopies in 14 boulbeurte.

Aiden Markram op die voorvoet. Foto: Randy Brooks/AFP.

Maar Suid-Afrikaanse kolfvertonings kan deesdae met ’n onfikse 400 m-atleet vergelyk word: Dinge lyk baie belowend oor die eerste 200 m van die wedloop, maar hy verloor kwaai stoom hier teen die einde.

Toe Markram in die 17de boulbeurt uitgehaal is, kon die res van die kolwers slegs 24 lopies bymekaar skraap om toe te sien dat die besoekers hul beurt op 168/4 eindig.

Evin Lewis (52 van 34 balle) het oudergewoonte soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek, maar ekonomiese boulwerk deur Tabraiz Shamsi (1/11) en Wiaan Mulder (2/31) het die lopiekrane toegedraai.

Dan het Lungi Ngidi (3/32) ook paaltjies geneem, maar hy word egter steeds vir hopeloos te veel lopies geslaan.

Die 25-jarige snelbouler het weliswaar 33 paaltjies in sy 21 internasionale T20-wedstryde vir die Proteas geneem, maar hy staan ’n gemiddeld van 9,44 lopies per boulbeurt af. Dit steek maar sleg by ekonomiese boulers soos ’n Shamsi (6,89) of ’n Dale Steyn (6,94) af.

Ná ’n paar maer seisoene vir die Suid-Afrikaners op die T20-verhoog, sorg hierdie reeksoorwinning vir goeie momentum vir later vanjaar se internasionale skouspel in die Verenigde Arabiese Emirate. ’n Mens moet onthou dat die Windies immers die verdedigende Wêreldkampioen is.

  • Meeste lopies in die reeks:
  1. Dit is Temba Bavuma se eerste reekssege as die Proteas se witbalkrieketkaptein. Foto: Twitter.

    Quinton de Kock (Suid-Afrika): 255 lopies teen ’n gemiddeld van 51 en ’n treftempo van 141,66.

  2. Evin Lewis (Windies): 178 lopies teen ’n gemiddeld van 35,60 en ’n treftempo van 160,36.
  3. Aiden Markram (Suid-Afrika): 113 lopies teen ’n gemiddeld van 37,66 en ’n treftempo van 131,39.
  4. Rassie van der Dussen (Suid-Afrika): 97 lopies teen ’n gemiddeld van 24,25 en ’n treftempo van 129,33.
  5. Reeza Hendricks (Suid-Afrika): 78 lopies teen ’n gemiddeld van 19,50 en ’n treftempo van 139,28.
  • Meeste paaltjies in die reeks:
  1. Dwayne Bravo (Windies): Tien paaltjies teen ’n gemiddeld van 13,10 en hy het 6,89 lopies per boulbeurt afgestaan.
  2. Obed McCoy (Windies): Nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,6 en hy het 7,05 lopies per boulbeurt afgestaan.
  3. Tabraiz Shamsi (Suid-Afrika): Sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 11,42 en hy het 4,00 lopies per boulbeurt afgestaan.
  4. Kagiso Rabada (Suid-Afrika): Sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,28 en hy het 9,44 lopies per boulbeurt afgestaan.
  5. George Linde (Suid-Afrika): Ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 20,83 en hy het 7,81 lopies per boulbeurt afgestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Linde (een meer) en Mulder (1 minder) het amper dieselfde hoeveelheid lopies as Ngidi afgestaan. Linde het ook een minder boulbeurt geboul. Dalk bietjie kras op Ngidi in die geval siende dat hy ook meer paaltjies geneem het as die ander twee genoemdes.

MAGRIETHA ·

Goed so maar dis 1 game manne soos miller ,ngidi, en nog 1 of 2 manne moet hulself afvra is ek goed genoeg vi die tipe krieket en ons keurders moet ook begin wakker word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.