Proteas in die knyp ná goeie begin in tweede toets

JP Duminy. Donderdag was hy `n boulwapen. Foto: AP Photo/Rob Gr(iffith)

JP Duminy. Donderdag was hy ‘n boulwapen. Foto: AP Photo/Rob Gr(iffith)

Teen uitskeityd op dag een van die tweede toets teen Nieu-Seeland in Wellington was Suid-Afrika erg in die knyp nadat hulle die Kiwi’s vroeër in die dag laat steier het.

Suid-Afrika het Donderdag vroeg toegeslaan, vyf goedkoop paaltjies geneem, toe met die sesde paaltjie swaargekry en uiteindelik, toe hulle sonder hul beste boulers vir die nuwe bal gewag het, ʼn klomp van die goeie werk ongedaan gemaak.

En toe slaan die tuisspan se boulers boonop toe en verwyder albei Suid-Afrika se aanvangskolwers.

Aan die einde van die dag se spel het die Proteas op 2/24 gewankel, met die nagwag Kagiso Radaba (8) en Hashim Amla (0) wat Vrydag in antwoord op Nieu-Seeland se 268 almal uit sal kom voortkolf.

Die Proteas se kolfbeurt het rampspoedig begin. Steven Cook (3) het weer eens misluk. Hy het net 12 balle trotseer voor hy in die glippe van Tim Southee se boulwerk gevang is. Rabada het as ʼn nagwag by Dean Elgar (9) aangesluit maar dit was Elgar se waardevolle paaltjie wat deur Colin de Grandhomme ingepalm is.

♦  Ironies genoeg was dit JP Duminy, niks meer as ʼn deeltydse draaier nie, wat die groot skade gedoen en onder meer die rekord-vennootskap tussen Henry Nicholls en  BJ Watling (116 vir die sesde paaltjie) gebreek het toe Nieu-Seeland se herstelpoging begin momentum kry het – en toe voortgegaan het om nog drie paaltjies te neem.

Sy eerste drie paaltjies het die Kiwi’s se kolfrug gebreek, maar toe het die stertkantkolwers met lekker slaanwerk sy syfers verinneweer en ook die telling van 222/8 tot 268 almal uit geneem. Duminy se boulsyfers van 4/47 is die beste van sy loopbaan.

♦  Faf du Plessis-hulle sal seker in die geheel redelik tevrede wees dat hulle die tuisspan op die eerste dag uitgehaal het nadat hy die Kiwi’s ingestuur het om te kolf.

Op 101/5 was die Proteas in beheer, maar Nicholls en Watling het toe vir die groot frustrasie gesorg. Ironies was dit einste Nicholls, wat as een van die dun middelorde-kolwers genoem is, wat sy eerste toetshonderdtal aangeteken het nadat Rabada vir die Nieu-Seelandse kaptein en hulle voorste kolwer Kane Williamson vir net twee lopies laat terugstap het.

♦  Die ses paaltjies wat Duminy en Keshav Maharaj met hul draaiballe tussen hulle geneem het, was ook ʼn verrassing aangesien die blad redelik vinnig is en dit die Proteas na verwagting sou pas met die bal wat vinniger en gelyk na die kolf deurkom.

Klik die skakel vir die volledige telkaart en syfers (http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020043.html)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pbotha ·

my genade man…stuur daai Cook seun huistoe…wat maak hy nog steeds in die span? Hoeveel tellings nog onder 10 lopies vir hom??? Jy wen toetse deur ordentlike aanvangsvenootskapoe wat die druk verlig op die ander kolwers. Hy gaan ons die dem reeks kos!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.