Proteas jaag 301 teen Sri Lanka

Anrich Nortjé het 69 lopies in sy tien boulbeurte afgestaan. Foto: Ishara S. Kodikara.

Laat ons nie doekies omdraai nie: Die Proteas se snelboulers het in die eerste wedstryd teen Sri Lanka in Colombo gesukkel.

Anrich Nortjé (0/69) was duur en Kagiso Rabada (2/66) se radar was by tye nie reg ingestel nie; daarbenewens het ’n foutbal of twee ook sy poging gekniehalter. Dan het Andile Phehlukwayo (0/37) meer as sewe lopies per boulbeurt afgestaan.

Sri Lanka is ’n goeie krieketspan, maar die gloriedae van Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene en Muttiah Muralitharan is lank reeds verby.

Vandag het Avishka Fernando (118) en Charith Asalanka (72) egter vir goeie vennootskappe gesorg om die Suid-Afrikaners op die agtervoet te plaas.

As dit nie vir Keshav Maharaj (2/30) was nie, sou die Proteas waarskynlik meer as 320 lopies moes jaag.

Tog sal die besoekers se kolwers steeds hul storie moet ken om die 301 lopies vir ’n oorwinning aan te teken; die Sri Lankane het immers hul boulaanval met draaiers gelaai; en almal weet dat om draaiboulwerk te trotseer ’n Suid-Afrikaanse kolwer se achilleshiel is.

Boonop is Quinton de Kock ook nie deel van die eendagaksie nie en daar sal dus swaar op die kolwe van die jong Janneman Malan en Rassie van der Dussen gesteun word.

Proteas: Aiden Markram, Janneman Malan, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Heinrich Klaasen, Andile Phehlukwayo, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi en Anrich Nortjé.

Sri Lanka 300/9 in 50 boulbeurte: Avishka Fernando (118), Charith Asalanka (72) en Keshav Maharaj (2/30).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.