Proteas jaag rekord op pienk Wanderers

David Miller - uit die reeks uit met `n vingerbesering

David Miller – uit die reeks uit met `n vingerbesering

Saterdag is die Wanderers weer pienk en plesierig wanneer die Proteas en Sri Lanka  die derde van vyf eendagwedstryde speel. Die pienk-veldtog is ten bate van borskankerbewustheid en Johannesburgers ondersteun dit graag.

Die pienk-Proteas sal sonder David Miller moet klaar kom na hy ʼn slegte sny aan sy pinkie tydens die eendagwedstryd in Durban opgedoen het. Hy sal nie verder aan die reeks teen Sri Lanka kan deelneem nie maar behoort slaggereed wees vir die wedstryde teen die Kiwi’s wat op 17 Februarie in Nieu-Seeland begin.

Miller sal na sy tweede onoorwonne honderdtal in die reeks teen Sri Lanka veral ook deur die toeskouers gemis word, maar Faf du Plessis is darem nog daar. Hy het ook honderdtal in die wedstryd in Durban geslaan. Dit is Saterdag Du Plessis se honderdste eendagwedstryd vir Suid-Afrika.

Farhaan Behardien  sal moontlik in Miller se plek speel en wat boulers betref kan Dwaine Pretorius, wat ook ʼn redelike kolwer is, ʼn kans kry. Wayne Parnell kan dalk dan hoër op die kolflys opskuif.

Die Proteas het hulle T20-Wedstryd teen Sri Lanka op die Wanderers verloor en hulle sal nie weer só ʼn fout wil maak nie. Dit het hulle eerstens ʼn plek op die wêreldranglys gekos en boonop jaag die span ʼn nuwe rekord.

Die Proteas het reeds 11 eendagwedstryde na mekaar in Suid-Afrika gewen en as hulle skoonskip kan maak van die oorblywende drie wedstryde, sal hulle die 13 tuis-oorwinnings na mekaar oortref wat in 1995/96 en 1996/97 opgestel is.

As Sri Lanka se kolwers net kan kophou, kan ʼn mens hulle nie afskryf nie want hulle boulaanval kan gevaarlik wees. Dit sal egter nodig wees dat hulle kolwers ʼn goeie begin in ʼn kolfbeurt tot stewige tellings deurvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.