Proteas kan Maandag die toets beklink

Australië se Steve Smith en Suid-Afrika se Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Australië se Steve Smith en Suid-Afrika se Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Met uitskeityd op die vierde dag van die eerste kriekettoets teen Australië in Perth, was Suid-Afrika totaal in beheer op die Waca en op die randjie van ʼn merkwaardige oorwinning – maar harde werk lê nog Maandag, die laaste dag, voor.

Australië het, op 169/4, nog 370 lopies nodig vir ʼn oorwinning, nadat Quinton de Kock en Vernon Philander Sondagoggend met Suid-Afrika se telling op 390/6, hul kolfbeurte voortgesit en gehelp het om die telling na 540/8, beurt gesluit, te voer.

De Kock het meer aanvallend as Saterdag gekolf. Hy het 64 van 100 balle aangeteken. Na De Kock se vennootskap van 116 saam met Philander, het Kevash Maharaj en Philander die telling tot 508/7 geneem met etenstyd, met Maharaj op 19 en Philander op 64.

Toe het hulle werklik losgetrek. Tien minute na ete het die Australiese kaptein, Steve Smith, Philander uitgeboul en Faf du Plessis het die beurt op 540/8 gesluit verklaar.

Philander het goed gekolf aan sy 73 lopies vir 143 balle. Maharaj, 41 nun, het ʼn waardevolle bydrae vanaf 34 balle, wat twee viere en drie sesse ingesluit het, in sy vennootskap van 72 met Philander gemaak

Die Australiese span se uitdaging was om 539 lopies vir ʼn oorwinning aan te teken of meer as ʼn dag en ʼn half te bly kolf vir ʼn onbesliste uitslag.

David Warner en Shaun Marsh was redelik stewig en veral Warner het, soos sy gebruik is, onder die boulers ingeklim.

Temba Bavuma het egter vir die hoogtepunt van die dag gesorg toe hy vir Warner, met sy telling op 35 en die totaal op 55/1, absoluut briljant uitgehardloop het. Kenners en kommentators was gaande daaroor en die relatief onbekende Bavuma het met daardie gooi skielik ʼn naam geword wat onthou sal word.

In dieselfde boulbeurt het Du Plessis Shaun Marsh (15) in die glippe van Kagiso Rabada se boulwerk uitgevang. Steve Smith, ʼn baie gevaarlike kolwer, het aanvanklik gekrap en geskrop en toe vloeiend begin kolf.

Hy is agter die paaltjies van Radaba af uitgevang en het 34 lopies van 91 balle gekolf. Adam Voges was nie lank daar nie en kon net ʼn enkele lopie bydra. Hy het eers ʼn paar balle lank teen Maharaj gesukkel en toe, in seker die beste boulbeurt van die wedstryd tot dusver, rand bygekry teen Radaba.

Met uitskeityd was die Aussies se telling 169/4, met Usman Khawaja (58) en Mitchell Marsh (15) nog voor die penne.

♦  Die Suid-Afrikaanse boulers moes Sondag opmaak vir die afwesigheid van Dale Steyn deur meer te boul. Philander en Rabada het vooraf gesê hulle gaan dit vir Dale doen en het saam 28 van die 55 boulbeurte afgestuur. Maharaj en Duminy het ook hard gewerk en selfs Stephen Cook het twee boulbeurte geboul om die snelboulers bietjie meer blaaskans te gee.

Opgesomde telkaart –

Australië (tweede beurt) 169/4: (Kolwers: David Warner 35, Shaun Marsh 15, Usman Khawaja 58*, Steven Smith 34,  Adam Voges 1, Mitchell Marsh 15 *. Boulers: Kagiso Radaba 3/49)

Suid-Afrika (tweede beurt) 540/8 verklaar (Kolwers: Dean Elgar 127, JP Duminy 141, Vernon Philander 73, Quinton de Kock 64, Keshav Maharaj 41*, Faf du Plessis 32, Temba Bavuma 8, Stephen Cook 12, Hashim Amla 1. Boulers: Mitchell Starc 1/114, Josh Hazlewood 2/107, Peter Siddle 2/62, Mitchell Marsh 2/77, Steve Smith 1/3)

Australië (eerste beurt): 244 (Kolwers: David Warner 97, Shaun Marsh 63, Adam Voges 27, Peter Nevill 23. Boulers: Vernon Philander 4/56, Keshav Maharaj 3/56, Kagiso Radaba 2/68, Dale Steyn 1/51)

Suid-Afrika (eerste beurt): 242 (Kolwers: Quinton de Kock 84, Temba Bavuma 51, Faf du Plessis 37. Boulers: Mitchell Starc 4/71, Josh Hazlewood 3/70)

Australië kort nog 370 lopies om te wen met ses paaltjies staande en een dag se speeltyd wat oorbly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Moet erken dat ek maar goed skepties was oor Kevash Maharaj se insluiting. Dit wil egter voorkom asof die kêreltjie se insluiting, die regte besluit was. Nou net vinnig twee paaltjies vat en die Kaap is weer Hollands.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.