Proteas kan staande bly in Engeland-reekse

Mark Boucher. Foto: @OfficialCSA/Twitter

Op 27 November sal die Proteas hul eerste krieketwedstryd sedert die Australië-reeks in Maart speel wanneer hulle vir Engeland in Kaapstad die stryd aansê.

Sedert daardie Aussie-reeks – waarin die Suid-Afrikaners skoonskip gemaak het – is die sportwêreld op sy kop gedraai: Die wêreldwye Covid-19-pandemie het vir maande ’n stokkie voor enige wedstryd gesteek, terwyl die Black Lives Matter-beweging (BLM) die wêreld se sportvelde in ’n politieke speelveld verander het.

Suid-Afrikaanse spelers het juis gedurende die 3TeamCricket-inisiatief in Julie op SuperSportpark die knie gebuig.

Maar, sê die Protea-afrigter Mark Boucher, die span sal in alle waarskynlikheid nie die knie gedurende die Engeland-reeks buig nie.

“Ek het met Lungi Ngidi – wat die hele inisiatief in die Suid-Afrikaanse krieketkonteks van stapel gestuur het – gepraat en hy is tevrede met wat reeds gedoen is; veral gedurende die 3TeamCricket-wedstryd,” het Boucher gesê.

Die destydse gebeure op SuperSportpark het weliswaar kritiek ontlok.

“Ek sou dit kon verstaan as daar in die verlede ook die knie gebuig is vir die buitengewoon hoë voorkoms van geweld op plase. Ek sou dit kon begryp as dieselfde ook al gebeur het om die ongelyke behandeling weens rasbehepte wetgewing op universiteite en in die werkplek uit te lig,” het James Kemp, hoofredakteur van Pretoria FM se Klankkoerant-programme, destyds gesê.

Die Proteas het kort daarna op ’n kultuurkamp na Skukuza vertrek waar oor die pad vorentoe gesels is.

Van die besprekingspunte daar was onder meer die Proteas se identiteit as span in hul kapasiteit as verteenwoordigers van ’n diverse nasie, sowel as die spanomgewing.

Die span se BLM-uitgangspunt het juis gestalte gekry tydens die moeilike gesprekke wat onder die Laeveldse winterson plaasgevind het: Volgens Boucher is inklusiwiteit en empatie waardes wat daagliks uitgeleef moet word; dit is nie net iets wat af en toe deur ’n voorafbeplande gebaar op die veld gestalte moet kry nie.

Engeland het in sy reeks teen Wes-Indië die knie ter ondersteuning van die BLM-beweging gebuig.  Maar in die daaropvolgende reekse (Pakistan teen Engeland en Australië teen Engeland) het die gebaar begin stoom verloor en in die Indiese Premierliga het die meeste spelers ook staande gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Ngidi se wat? Sy …. Van wanneer af se wie of wat, dat ek of enige anders persoon moet doen of nie doen nie, veral met die rassistiese beweeging.

Mauritz ·

Die meeste Protea spelers het klaar gewys hulle is ‘n ruggraatlose spul wat bereid is om hulle beginsels (as hulle beginsels gehad het) te verkoop ter wille van geld en politiek.

Andre ·

Nee wat laat die kniebuigers maar speel.Ons stel nie meer belang nie.GLAD nie.Sport in die land is KLAAR.Maak soos julle wil.Ons sit af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.