Proteas kan vandag T20-reeks beklink

Foto: Randy Brooks/AFP.

Maart 2019 teen Sri Lanka; dít was toe die Proteas laas ’n T20-reeks kon wen. Sedertdien het hulle onder meer teen Pakistan, Australië en Engeland vasgeval.

Maar as Temba Bavuma se span vandag met die Wes-Indiese Eilande afreken, kan die silwerware maar solank gepoets word want dan sal hulle ’n voorsprong van 3 – 1 in die reeks van vyf wedstryde geniet.

Die Suid-Afrikaners het die laaste twee kragmetings met 16 lopies en een lopie gewen nadat die Windies hulle in die eerste wedstryd met agt paaltjies verrinneweer het.

Toegegee, Bavuma-hulle se seges was nie van die mooiste in die geskiedenis van die formaat nie, maar die Windies is nogtans die verdedigende wêreldkampioen ná Carlos Brathwaite se heldedade in Indië vyf jaar gelede. En hulle spog steeds met mik-en-moker-sterre soos Chris Gayle, Andre Russell en Kieron Pollard in hul span.

Die Proteas se sukses is grotendeels te danke aan hul boulers – met Tabraiz Shamsi voor in die koor – en die flitsende kolf van ’n uitstekende Quinton de Kock.

Shamsi is die wêreld se voorste T20-bouler en hy blink ongetwyfeld ook in die huidige reeks uit. In drie wedstryde het hy vier paaltjies teen ’n gemiddeld 14 geneem. Daarbenewens kan die Windie-kolwers net 4,66 lopies per boulbeurt van hom slaan.

Dan is De Kock eintlik die enigste Suid-Afrikaanse kolwer wat goed op dreef is. Hy is die voorste lopiemaker in die reeks en spog met ’n treftempo van 142,10.

Tog sal dit lekker wees as die res van die kolwers ook vir ’n slag vlam vat.

Die wedstryd begin vanaand om 20:00 en word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Naomi ·

Quinton en Shamsi alle oe op julle vanaand julle kan dit doen….trots op julle Proteas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.