Proteas kolf eerste in WB-kleedrepetisie

David Miller. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Die Proteas kolf eerste in die openingswedstryd van hul T20-reeks teen Indië nadat die tuisspan se Rohit Sharma die loot gewen het.

Die reeks van drie wedstryde is die Suid-Afrikaners se laaste kleedrepetisie voordat die T20-Wêreldbeker in Australië begin.

En ʼn klein veld – die langste grens in Thiruvananthapuram (probeer gerus om dié woord ná ʼn sopie boegoebrandewyn uit te spreek) is 76 m – beteken dat dit omtrent vir jou grenshoue kan reën.

Die Suid-Afrikaners sal op die kolfvaardighede van Quinton de Kock, Rilee Rossouw, Aiden Markram, Tristan Stubbs en David Miller steun om die lopiekrane oop te draai.

Die beleërde Temba Bavuma sal die kolfwerk saam met De Kock open.

Die Suid-Afrikaanse witbalkrieketkaptein het juis in aanloop tot die wedstryd gesê dat die SA20-veilingdwarsklap nie ʼn negatiewe invloed op sy leierskaprol sal hê nie.

Hoewel die gevaarlike Jasprit Bumrah en Bhuvneshwar Kumar nie vir hierdie wedstryd oorweeg is nie, sal die Protea-kolwers steeds op hul hoede moet wees.

“Op hul tuisveld kan Indië se snelboulers die bal baie goed van die naat laat beweeg – selfs meer as dit waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. As kolwers kan ons dit nie bekostig om konsentrasie te verloor nie,” het Bavuma gesê.

Vreemd genoeg kon Indië nog nooit ʼn T20-toernooi op hul tuisveld teen Suid-Afrika wen nie. Die vorige reeks tussen die twee lande het met  twee elk gelykop geëindig.

Suid-Afrika: Quinton de Kock, Temba Bavuma (kaptein), Rilee Rossouw, Aiden Markram, Tristan Stubbs, David Miller, Wayne Parnell, Kagiso Rabada, Keshav Maharaj, Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi.

Indië: Rohit Sharma (kaptein), KL Rahul, Virat Kohli, Suryakumar Yadav, Rishabh Pant, Dinesh Karthik, Axar Patel, Harshal Patel, Ravichandran Ashwin, Deepak Chahar en Arshdeep Singh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos 100 ·

Mag ons die opskrif asb verander. Die proteas het nie gekolf nie. Hulle het net opgedaag. 107 lopies op die blad is nie eers aanvaarbaar op klub vlak nie!

Fran ·

…en toe verloor hulle met hulle kwotakaptein in hulle dinges in.

George ·

4 eende…VIER. Dit was ongelooflike swak spel. Ons maak staat op ons bowlers vir paaltjies, en lopies. Hoeveel kanse gaan Rilee en Temba kry? As julle nou moet, stuur Temba in op 5, hy is nie opgewasse teen die nuwe bal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.