Proteas kort vyf paaltjies op die laaste dag

Suid-Afrika teen Sri Lanka (29 Desember 2016) Foto: ICC, Twitter

Suid-Afrika teen Sri Lanka (29 Desember 2016) Foto: ICC, Twitter

Sri Lanka het Donderdag na die vierde dag van die eerste kriekettoets op St Georgespark met vyf paaltjies staande nog 248 lopies benodig om Suid-Afrika te klop.

Op ʼn mak kolfblad het Sri Lanka vasberade en met geduld as wagwoord die onwaarskynlike teiken van 488 lopies in 173 boulbeurte gejaag wat Faf du Plessis vir hulle gestel het nadat hy Donderdagoggend saam met Quinton de Kock voortgekolf het.

Met die reeds aansienlike voorsprong wat ʼn wêreldrekord van Sri Lanka sou verg om te wen, het Du Plessis eers op 406/6 verklaar toe De Kock uit is. Hulle het saam 129 lopies om die sesde paaltjie in 26 boulbeurte teen byna vyf lopies per boulbeurt aangeteken.

Du Plessis was onoorwonne op 67 (86 balle) terwyl De Kock 69 (ook in 68 balle) aangeteken het.

♦  Sri Lanka se kolwers het toe gewys dat hulle kan vasbyt. Ondanks die goeie lyn en dissipline van die Proteas se boulers het die eerste paaltjie eers op 87 geval toe Dimuth Karunaratne op 43 uitgehardloop is.

Dilruwan Perera, wat tans met sy kolfwerk sukkel, is ses lopies later uitgehaal toe hy ʼn bal van Keshav Maharaj, wat uit die boulers se voetmerke gespring het, probeer kap het en agter die paaltjies gevang is.

Kaushal Silva, wat saam met Karunaratne die stewige aanvangsvennootskap daargestel het, is toe deur Kagiso Rabada vir 48 goeie lopies beenvoor betrap. Met die totaal op 118/3 het dit vir Sri Lanka neusie verby gelyk.

Maar toe het Kasul Mendis met ʼn uitstekende 58 lopies saam met sy kaptein Angelo Mathews die telling na 193 gevoer. Die besoekers het net 295 lopies benodig en die Proteas se boulers het sonder deurdringingsvermoë gelyk.

Die Proteas se ondersteuners het, ondanks die groot teiken, so vaagweg onrustig begin raak – maar 295 lopies in die laaste beurt met net sewe paaltjies staande, is nie maklik nie.

Mendis het met skielike ongeduld sy paaltjie verloor. Radaba het ʼn wipbal, op die middel- en bypen, afgestuur. Mendis het effens bykant toe beweeg om homself ruimte te gee, randjie bygekry en die onwaarskynlike droom het in die realiteit verander: Sri Lanka sal nie kan wen nie.

Daarna het Maharaj ook nog vir Dinesh Chandimal laat terugstap.

♦  Radaba was Donderdag, op ʼn mak kolfblad, pure venyn en vaart. Maharaj het meer as sy deel gedoen, en as Vernon Philander boonop Vrydag sy ritme vind sal die drietal en Kyle Abbott, wat Donderdag goed maar sonder sukses geboul het, kort mette van die oorblywende vyf paaltjies maak.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 286 (Kolwers: Stephen Cook 59, Dean Elgar 45, Hashim Amla 20, JP Duminy 63, Faf du Plessis 37, Temba Bavuma 5, Quinton de Kock 37, Vernon Philander 13. Boulers: Suranga Lakmal 5/63, Rangana Herath 2/48, Nuwan Pradeep 2/66)

Sri Lanka (eerste beurt): 205 (Kolwers: Angelo Mathews 39, Dinesh Chandimal 28, Dhananjaya de Silva 43, Rangana Herath 24. Boulers: Vernon Philander 5/45, Kyle Abbott 3/63, Kagiso Rabada 1/63, Keshav Maharaj 1/30)

Suid-Afrika (tweede beurt): 406/6 verklaar (Kolwers: Dean Elgar 52, Hashim Amla 48, Stephen Cook 117, JP Duminy 25, Temba Bavuma 8, Faf du Plessis 67*, Quinton de Kock 91. Boulers: Dhananjaya de Silva 2/74)

Sri Lanka (tweede beurt): 240/5 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 43, Kaushal Silva 48, Kusal Mendis 58, Angelo Mathews 58* Boulers: Kagiso Rabada 2/72, Keshav Maharaj 2/84)

Na die vierde dag se spel benodig Sri Lanka nog 248 lopies om te wen met vyf tweedebeurt-paaltjies nog staande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.