Proteas krap kop oor Philander se rug en spelers se vorm

Suid-Afrika veg van Vrydag af op die Old Trafford-krieketveld om sy 19-jarige reeksrekord in toetse in Engeland te behou en ook om die vorm en selfvertroue te herwin met tien toetse wat oor die volgende jaar tuis vir Suid-Afrika voorlê.

Sedert 1964 het Suid-Afrika, onder aanvoering van Peter van der Merwe, drie reekse in Engeland gewen, net een verloor (in 1989) en twee keer die reeks gedeel.

Op Old Trafford is die Proteas egter met die rug teen die muur met twee verloor en net hierdie toets wat in die reeks oorbly. Faf du Plessis staar sy eerste reeksneerlaag as kaptein in toetse in die gesig.

Die Proteas is in die toets op die Oval geheel en al deur Engeland oorrompel, en het ʼn paar probleme wat hulle sal moet regstel as hulle hierdie reeks wil red, en net so belangrik, vorentoe wil oorheers.

♦  Die eerste is die posisie van aanvangskolwer. Heino Kuhn net nou in ses beurte net 78 lopies gemaak, waarvan 34 in een beurt geslaan is.

Hy is die vyfde aanvangsmaat van Dean Elgar sedert Alviro Pietersen uitgetree en toe weens wedstrydknoeiery geskors is. Tog lyk dit of die Proteas Vrydag met Kuhn sal volhard.

Suid-Afrika se aanvangsvennootskappe in die laaste twee toetsreekse het gemiddeld net 12,91 lopies bedra.

Die Proteas het wel ʼn keuse as aanvangskolwer op toer. Daar is die jong  Aidenk  Markram wat gerus probeer kan word.

Kuhn is te goed om sommer summier op die ashoop te gooi, maar sukkel nou met selfvertroue. ʼn Toets-blaaskans om op provinsiale vlak weer lopies te maak, is moontlik die antwoord.

♦  Die ander kolfprobleem is die sukkelvorm van Quinton de Kock sedert hy na nommer vier opgeskuif is. Oor sy vermoëns is daar geen twyfel nie, maar miskien is nommer vier te vroeg oor die gebrek aan sukses wat van die aanvangskolwers ondertoe vloei.

♦  Agt kolwers met net vier boulers, waarvan Vernon Philander een is? En wat as Philander nie heeltemal reg is nie en soos in die vorige toets kort-kort van die veld is?

Uit Engeland word juis berig dat hy tans met rugspasmas sukkel.

As daar sekerheid is dat Philander die toets sal volhou, kan Markram of Theuns de Bruin (weer) dalk kans kry met Chris Morris wat uitsit. Anders sal Morris se oneffektiewe boulwerk maar weer ʼn kans gegun word.

♦  Dit is nat in Manchester, en hitte-gloeilampe is Donderdag aangeskakel om die buiteveld te help uitdroog na heelwat reën die week, insluitende Donderdagoggend.

Meer nattigheid word verwag, en dit beteken dat die kolfblad minder wip en ook vaart as die gewone Old Trafford-blad aan boulers sal verleen.

♦  Met albei spanne wat ‘n sterk boulaanval het, kan kolfwerk hierdie toets beklink.

Moontlike spanne –
Engeland
: 1 Alastair Cook, 2 Keaton Jennings, 3 Tom Westley, 4 Joe Root (kapt.), 5 Dawid Malan, 6 Ben Stokes, 7 Jonny Bairstow, 8 Moeen Ali, 9 Toby Roland-Jones, 10 Stuart Broad, 11 James Anderson.
Suid-Afrika: 1 Dean Elgar, 2 Heino Kuhn, 3 Hashim Amla, 4 Quinton de Kock, 5 Faf du Plessis (kapt.), 6 Temba Bavuma, 7 Vernon Philander, 8 Chris Morris, 9 Keshav Maharaj, 10 Kagiso Rabada, 11 Morné Morkel.

Spel begin 12:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.