Proteas kry groot loesing in eerste T20-wedstryd

Die Proteas het Woensdagaand in Southampton weer teleurgestel toe Engeland hulle met nege paaltjies en met nog 33 balle oor ʼn deeglike krieketles in die eerste van drie T20-wedstryde geleer het.

Suid-Afrika het besluit om eerste te kolf. JJ Smuts is met die eerste bal van die kolfbeurt deur David Willey skoongeboul en in die tweede boulbeurt is Reeza Hendricks, ook van die eerste bal, deur Mark Wood se boulwerk gevang. Op 7/2 na sewe balle was Suid-Afrika dus uit die staanspoor met die rug teen die muur.

David Miller het ook nie lank gehou nie en is vir nege lopies uitgehaal, wat ʼn goeie ses ingesluit het (32/3).

AB de Villiers en Farhaan Behardien moes die situasie probeer red en hulle het bestendig gekolf.  Maar T20-krieket verg ʼn vinniger lopietempo as De Villiers se 65 lopies in 58 balle en Behardien se 64 in 52 balle.

Goeie boul- en veldwerk het hulle vasgepen, en die Proteas het ná hulle toegelate 20 boulbeurte net 142/3`  op die telbord gehad.

Engeland het vanuit die staanspoor baie aanvallend gekolf en hulle eerste en enigste paaltjie het in die vyfde boulbeurt geval toe Andile Phehlukwayo vir Jason Roy beenvoor betrap het. Die telling was toe reeds 45/1.

Die Proteaboulers kon nie juis hond haaraf maak nie, en veral Wayne Parnell en Imran Tahir is sleg verinneweer.

Alex Hales (47 in 38 balle) en Jonny Bairstow (60 in 35 balle) het die benodigde 143 lopies op ʼn drafstap na slegs 14.3 boulbeurte bereik.

Die volgende T20-wedstryd vind Vrydagaand om 18:00 op Taunton plaas.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Reg so! Hoop die Engelse whitewash die Proteas sodat daar bietjie wakker geskrik kan word, patetiese performance!

henk ·

en so moes Hansie gestraf word, maar daar word nie ‘n woord gerep na die openbaring van die guptas in die Proteas se lewe opgevlek is nie……

Lance ·

Hoe wil jy ń T20 wen as jy ń lopie per bal aanteken en kyk wie is in die span,ons wil maar verloor soos die eendag reeks.

Ben ·

Stem saam dit was n patetiese vertoning en AB kan nie meer aan nuwe verskonings dink nie.Die kolfblad kon tog nie binne minute verander het om die Engelse te pas nie.Wat ek nie kan verstaan nie is dat van die topspelers wat in die Kampioeneliga maar gemiddeld gevaar het,huistoe gestuur word om te rus.Mens sou dink dat hulle eerder daar moes bly om op die Engelse blaaie oefening te kry vir die toetsreeks.Gegewe hulle swak vertonings moes hulle eerder meer gespeel het ipv om in Suid Afrika te kom rus.Hulle gaan vir Abbott kwaai mis as mens na Parnell se swak boulwerk kyk.

Koos1 ·

Gaan die sleg met die Bokke, dan gee die Proteas weer hoop. Gaan die goed met die Bokke dan vou die Proteas.
Ek het dit al baie gesê, die Proteas se boul aanval is nie goed genoeg nie! Daar is in die span senior splelers wat dink hulle is groter as die span en die spel.
Die keurders moet maak soos die Bokke maak, kies ‘n span met spelers op vorm, en laat hulle speel. AB en Parnell WAS goed maar ongelukkig is hulle verby hulle “sell buy date” en het dit bewys in die afgelope toernooi ook. As ‘n speller kan kies watter wedstryde hy wil speel, dan het die keurders die plot verloor. Dis soos as ek met my werk wil kies wat ek wil doen en wat nie! My bas sal baie vining afgedank word!

Frans C ·

Kan iemand my sê hoe Mickey Arthur dit kon regkry om Pakistan die ‘Champions Trophy’
te laat wen,terwyl hy niks met die Proteas in kompetisies kon regkry nie.Is van ons spelers nie maar net te ongedissiplineer en net nie goed genoeg nie om suksesvol te wees nie,

Chris ·

Frans, jy is seker nie ernstig nie. Almal weet wat die land se sport prestasie kniehalter.

Frans C ·

Al vou spelers is dit tog geen rede waarom kolwers soos Abie keer op keer moet misluk nie.

Frans C ·

Hoeveel keer was Abie suksesvol die laaste tyd vir die Proteas?

Frans C ·

AB se trefrempo in die IPL was 168 en 175 vir 2016 en 2017,tans 132.

Lol ·

Kom voor asof CSA en Proteas nie oor 20/20 uitslae bekommerd is nie? Spanne word saamgeflans sonder enige balans in die span.

Francie ·

Aggenee! Dis moeilik om opgewonde oor ons sport te word as dit so treurig gaan. Dis nou as jy nou nog die Bulle ook ondersteun.
Dankie tog vir die Springbokke, hulle maak mens weer uitsien na ‘n Saterdagmiddag, en ons kan oor die algemeen doen met goeie nuus.
Almal klim op AB se kop af, maar krieket is tog ‘n spansport: Een voëltjie maak nie die somer nie!

Lol ·

Met Behardien in die span sal ons gelukkig altyd die kategorie wen : onaantreklikste speler van die wedstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.