Proteas kry neus voor in die eendagreeks

Dwaine Pretorius - 3/5 in 5.2 beurte (Foto skysports.com)

Dwaine Pretorius – 3/5 in 5.2 beurte (Foto skysports.com)

Met een oorwinning elk, albei net-net, was Saterdag se derde eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland van groot belang in die reeks van vyf. En dié keer was dit amperse eenrigtingverkeer in die tweede kolfbeurt.

Die Kiwi’s het in Wellington geen antwoord gehad teen die kolfwerk van veral AB de Villiers en die uitstekende boulwerk van die Proteas nie en met 159 lopies verloor.

AB de Villiers het die loot gewen en die Proteas was op 185/6 lelik in die knyp. Hulle het egter 271 lopies daargestel vir die tuisspan om te jaag.

Die Proteas het redelik goed gekolf hoewel Hashim Amla (7), JP Duminy (16) en David Miller (3)  nie veel bygedra het nie.  Die 251/8 was hoofsaaklik te danke aan uitstekende kolfwerk deur Quinton de Kock (68 in 70 balle met ses vier en twee sesse), goeie bydraes deur Faf du Plessis (36) en Wayne Parnell (35), en veral die beurt van AB de Villiers (85 in  80 balle met sewe viere en ʼn ses).

Parnell se 35 in 32 balle het saam met De Villiers se slaanwerk hier na die einde toe 84 lopies om  die sewende paaltjie in net 64 balle bygedra in ʼn redelike teiken van 272 op ʼn blad wat nie maklik gespeel het nie maar ook nie baie streke uitgehaal het nie.

En toe kom die Proteas se boulers aan die beurt. Hulle was uitmuntend en die Swart Pette was uit die staanspoor onder druk. Die tweede paaltjie het reeds in die derde boulbeurt geval, die telling 11/2.  Die enigste kolwers wat effens weerstand gebied het, was die kaptein, Kane Williamson (23), Ross Taylor (18) en Colin de Grandhomme (34 nun) wat teen die einde die lang steel ingelê het om die telling ʼn bietjie meer aansien te gee.

Die Proteas se boulers het gewys daar is heelwat lewe in die blad en het dit met pragtige lengte en rigting uitgebuit.  Lopies vir Nieu-Seeland was skaars en Taylor en Williamson, hul beste kolwers, het 12 boulbeurte benodig vir hulle vennootskap van 37. Toe albei binne nege balle uitgehaal is, was die telling 48/4 en die wedstryd vir die Kiwi’s feitlik buite bereik.

Nieu-Seeland is in die 33ste boulbeurt vir 112 uitgeboul.

Die boulers  het die paaltjies mooi tussen mekaar verdeel met Dwaine Pretorius wat sy 3/5 in net 5.2 beurte geneem het. Kagiso Rabada  (2/39), Wayne Parnell (2/33), Andile Phehlukwayo (2/12  in vyf beurte) en Imran Tahir (1/3) het die paaltjies geneem.

Die vierde wedstryd in die reeks van vyf word Woensdag (03:00) weer in Hamilton gespeel, waar die eerste wedstryd beslis is.

Klik hier vir die volledige telkaart: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020035.html

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.