Proteas laat die kwik verder styg

Quinton de Kock het ’n speler van die wedstryd-vertoning teen Indië gelewer. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Die Proteas het op hul sukses in die toetsarena voortgebou toe hulle vandag die tweede eendagwedstryd teen Indië in die Paarl met sewe paaltjies gewen het.

Sodoende is die reeks nog vóór Sondag se finale wedstryd  beklink.

En vir die vierde agtereenvolgende kragmeting (as jy die toetse byreken) was dit die kolwers wat hul stem dik gemaak het om die wa deur die drif vir die Proteas te trek.

Met die kwik wat hoër as 40°C in die Boland gestyg het, het KL Rahul die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Veral Rishabh Pant (85 van 71 balle) het munt uit deurmekaar boulwerk en swak veldwerk geslaan en dit het in ’n stadium gelyk of die besoekers meer as 300 lopies sou aanteken.

Maar Tabraiz Shamsi en die ander draaiers het gesorg dat die Indiese lopievliegtuig skielik ’n noodlanding moes uitvoer en hulle moes met 287/6 in hul toegelate 50 boulbeurte tevrede wees.

Daarna het Quinton de Kock met die vryheid van ouds gekolf en hy het tien grenshoue in sy warrelwind-beurt van 78 geslaan.

Die 29-jarige paaltjiewagter – wat boonop ook baie flink agter die paaltjies was – het ’n openingsvennootskap van 132 lopies saam met ’n skitterende Janneman Malan (91) geniet en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Temba Bavuma (kaptein) het ná die kragmeting gesê dat dit lekker is om ’n speler van De Kock se kaliber in die span te hê.

“Dit is baie goed om vir Quinny terug in die span te hê en hom te sien glimlag. Hy het ons almal net weer herinner waarom hy so ’n waardevolle speler is,” het Bavuma gesê.

Opsomming van telkaart:

Indië 287/6 in 50 boulbeurte: Rishabh Pant 85, KL Rahul 55 en Tabraiz Shamsi 2/57

Suid-Afrika 288/3 in 48,1 boulbeurte: Janneman Malan 91, Quinton de Kock 78 en Jasprit Bumrah 1/37.

Proteas: Quinton de Kock, Janneman Malan, Temba Bavuma (kaptein), Aiden Markram, Rassie van der Dussen, David Miller, Andile Phehlukwayo, Keshav Maharaj, Sisanda Magala, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi.

Indië: KL Rahul, Shikhar Dhawan, Virat Kohli, Rishabh Pant, Shreyas Iyer, Venkatesh Iyer, Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Bhuveneshwar Kumar, Jasprit Bumrah en Yuzvendra Chahal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.