Proteas looi Ierland weer

Reeza Hendricks (links) en Quinton de Kock van Suid-Afrika tydens ʼn vorige wedstryd (27 Junie 2021) (Foto: Randy Brooks/AFP)

Gedissiplineerde boulwerk van die Proteas se tweede linie boulers het die span gehelp om die reeks teen Ierland 3-0 te beklink.

Die draaiboulers George Linde (2/21) en Bjorn Fortuin (0/25) het agt suinige boulbeurte afgestuur vir net 46 lopies. Die eerstekeuse-boulers Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi het ʼn blaaskans gekry nadat die reeks reeds in die tweede wedstryd beklink is.

Die Proteas se toporde het weer stadig begin. Reeza Hendricks en kaptein Temba Bavuma kon net 35 lopies in die kragspel aanteken. Ná tien beurte was die telling net 63. Hendricks (69 van 48 balle; 7×4, 1×6) het sy paaltjie in die 16de beurt verloor met die telling op 127. Bavuma het ook die lopies begin inryg en is terug pawiljoen toe met sy telling op 72 van 51 balle (6×4, 2×6) af. David Miller het ʼn vinnige 36 lopies nie uit nie van net 18 balle af aangeteken en die Proteas stel ʼn totaal van 189/2 op die Iere om te jaag. Bavuma is aangewys as Speler van die Wedstryd en Miller as die Speler van die Reeks.

Ierland se kolwers kon glad nie in die reeks aan die gang kom nie en vennootskappe was weer van korte duur. Die tuisspan eindig op 140/9 in hulle toegelate twintig beurte. Die Proteas beklink die wedstryd met 49 lopies.

Die Proteas het nou opeenvolgende T20-reekse teen Wes-Indië en Ierland gewen, maar nog baie werk lê voor vir die Wêreldbeker wat in Oktober in die Verenigde Emirate en Oman gespeel word. Suid-Afrika is in dieselfde groep as Engeland, Australië en Wes-Indië.

Afrigter Mark Boucher kan tevrede wees met die diepte wat hy het in sy boulaanval. Die probleem is dat hy staat moet maak op enkele kolfsterre soos Quinton de Kock, David Miller en Aiden Markram om goeie tellings op te stel vir sy boulers om te verdedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Politikus ·

Proteas is geneig om die kleintjies en die swakkes te boelie wanneer daar geen druk is nie, maar die vrae oor hul staal in die uitklop rondtes van wêreldbeker toernooie bly, na bykans drie dekades sedert hertoelating, steeds onbeantwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.