Proteas ly eerste WB-nederlaag

Meg Lanning het ’n skitterende honderdtal teen die Proteas in Wellington geslaan. Foto: Marty Melville/AFP.

Meg Lanning se briljante onoorwonne 135 lopies het gesorg dat die Protea-vrouekrieketspan hul eerste nederlaag van die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland gely het.

Die Suid-Afrikaners het ’n heel skaflike 271/5 in hul toegelate 50 boulbeurte – danksy goeie beurte deur Laura Wolvaardt (90) en Suné Luus (52) – aangeteken, maar die Aussies het die wenlopies reeds in die 46ste boulbeurt geslaan.

Lanning se spogbeurt was ongetwyfeld die verskil tussen die twee spanne; nie een van die ander Australiese kolwers kon meer as 32 lopies aanteken nie.

Die Australiese kaptein het veral van Tumi Sekhukhune se boulwerk gehou en die Suid-Afrikaner het 68 lopies in sewe boulbeurte afgestaan.

“Ek dink ons boulers sou die telling op enige ander dag kon verdedig, maar Meg (Lanning) was uitstekend,” het Luus gesê.

Volgens die Protea-kaptein is sy tevrede met Shabnim Ismail se boulvertoning, maar die span sal hul veldwerk moet opskerp.

“Ons het nou ’n dag om vir ons volgende wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande voor te berei. Ons is nog nie verseker van ’n plek in die halfeindstryd nie.”

Die Suid-Afrikaners sal hoop dat spelers soos Lizelle Lee en Mignon du Preez binnekort met die kolf vlam vat.

Die twee sterkolwers se gemiddeld is onderskeidelik 16,00 en 8,25 in die toernooi.

Die Proteas speel Donderdag teen die Wes-Indiese Eilande in Hamilton.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 271/5 in 50 boulbeurte: Laura Wolvaardt 90, Suné Luus 52 en Annabel Sutherland 1/26.

Australië 272/5 in 45,2 boulbeurte: Meg Lanning 135*, Tahlia McGrath 32 en Shabnim Ismail 2/33.

  • Wêreldbeker-punteleer:
  1. Australië: 12 punte
  2. Suid-Afrika: 8 punte
  3. Wes-Indiese Eilande: 6 punte
  4. Indië: 4 punte
  5. Engeland: 4 punte
  6. Nieu-Seeland: 4 punte
  7. Bangladesj: 2 punte
  8. Pakistan: 2 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Goeie kolfwerk maar minder goeie boulwerk het dit ongedaan gemaak,

Casper ·

Lizelle Lee sal nie kwalifiseer vir burgrskap in die land van die silwer varing nie.Haar veldwerk is pateties.Chetty is nie goed agter die paaltjies nie.Ons kolwers wil die leer van die bal afslaan i p v die bal in gapings te speel en die swak balle grens toe te stuur.Die kaptein se veldplasings laat veel te wense oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.