Proteas maak groot skande; uit Kampioene-toernooi

Toe was daar nog hoop en verwagtinge. AB de Villiers en Virat Kohli loot voor die wedstryd (Foto: Twitter @OfficialCSA)

Die Proteas het Sondag in hul laaste groepwedstryd om die Kampioenebeker teen Indië groot skande gemaak en met agt paaltjies teen Indië slae gekry.

Die woord skande, sal baie sê, is miskien oordadig kras. Wanneer die eerste gekeurde span ter wêreld met die aanvang van die toernooi, egter binne 51 lopies, van 140/2 tot 191 almal uit, sy laaste agt paaltjies verloor, is dit net eenvoudig nie goed genoeg nie.Indië het die teiken bereik met 12 van sy toegelate 50 beurte nog oor. Daarmee is die Proteas in wat eintlik ʼn kwarteind was, uit die toernooi gebonder.

Net drie dae gelede kon die Proteas teen die swak Pakistan net 219/8 in hulle 50 beurte bymekaarskraap en teen alle verwagting in teen die laaste gekeurde span verloor.

Die aanvangsvennootskap tussen Hashim Amla (35 in 54 balle) en Quinton de Kock (53 in 72 balle) was eenvoudig te stadig om vroeë beheer in die wedstryd te neem.

Twee van die voorste kolwers, AB de Villiers wat gelyk het of hy op stryk was, en David Miller is binne vyf balle van mekaar uitgehardloop.

Miller se geval was so ʼn deurmekaarspul dat hy vir die kolfkampie geduik het terwyl sy kolfmaat Faf du Plessis gestrek het om sy kolf oor dieselfde streep te kry. Intussen het die Indiërs die balkies tydens dié amperse lagwekkende voorval aan die ander kant verwyder.

Miller is uitgegee omdat die twee kolwers nooit met die lopie gekruis het nie .

Vyftien lopies later het Du Plessis hom gevolg toe hy vir 36 skoongeboul is. Net JP Duminy, wat met omsigtigheid moes kolf omdat Chris Morris en Andile Phehlukwayo, albei vir vier lopies, en Morné Morkel (eerste bal) goedkoop uitgehaal is, het daarna redelik met 20 nun bygedra.

Imran Tahir was die laaste man uit toe hy vir een uitgehardloop is.

♦  Die boulers het weinig byt getoon. Kagiso Rabada het sy nege beurte met goeie  beheer afgestuur en net 34 lopies afgestaan, en Morkel en Tahir was redelik bestendig en is ook elk met ʼn paaltjie beloon.

Die Indiese kolwers was egter uit die staanspoor in beheer.

Vir Indië het Virat Kohli met sewe viere, en ook ʼn ses om die wenlopies te slaan, 76 in 101 balle aangeteken; Shikhar Dhawan het 78 in 83 balle geslaan en die tweede paaltjie tussen hulle het 128 lopies opgelewer ná die vroeë paaltjie van Morkel op 23/1 wat seker ʼn bietjie onwaarskynlike hoop aan die Proteas gegee het.

♦  Wat egter duidelik is, is dat die Proteas nie op sukses kan staat maak met ʼn span vol middelmatige veelsydige spelers, wat nie regtig as topkolwers en redelike boulers of as topboulers wat redelik kan kolf gereken kan word nie.

Daar is nie ʼn Jacques Kallis, Shaun Pollock, Brian McMillan of Clive Rice onder hulle nie – uithaler-kolwers wat ook kan boul, of van die wêreld se beste boulers wat regtig kan kolf nie.

Die volle telkaart kan gesien word op die skakel http://www.espncricinfo.com/icc-champions-trophy-2017/engine/match/1022367.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Dries Potgieter ·

Ha Ha Ha! Of die Afrikaners dit nou wil hoor of nie, Suid-Afrikaanse krieket is in 1992 vervloek. Dis waarom hulle so baie ‘choke’ en waarom hulle NOOIT die wêreldbeker sal wen nie.
Wie onthou nog hoe Afrikaners gedreig is dat hulle moet “JA” stem of die Proteas word teruggestuur van die wêreldbeker toernooi in Nieu-Seeland daardie jaar? Praat van ‘n pot lensiesop…

Patriot ·

Ek stem heelhartig met jou saam, Dries. Afrikaners het hul Skepper, hul volk en hul voorgeslagte verraai vir die sportgod. Self onthou ek nog FW de Klerk se telefoniese gesprek met Kepler Wessels op die televisienuus dié aand, asook die bedekte dreigement dat as die nee-stem sou wen in die referendum, die span sou moes terugkeer na SA. Laat hulle maar verstik soos hulle in elke belangrike toernooi doen, hulle en hul lamsakkige ondersteuners verdien dit…

Marius ·

Sjoe, julle gaan haal dit ver. Ek dog dis net swak besluitneming op die veld, nou hoor ek daar is lensiesop betrokke. Wys jou hoe oningelig die res van ons is.

Waghond ·

Pateties!
AB wil sy brood aan albei kante gebotter he. Sy verdeelde aandag en fokus bring mee dat hy nie rasioneel as kaptein optree nie. Hy moet van die kapteinskap onthef word.
Die spankeuses laat ook veel te wense oor – te veel passasiers.

Josef ·

Wonder of daar nie dalk groot geld met sport weddenskappe gemaak word nie. As die no 1 span verloor…

Nico ·

AB moet ontneem word van die kapteinskap. Verder moet hy besluit wil hy vir SA speel of nie. Dit moet beslis ‘n negatiewe invloed op die span het as hy selektief wil speel en selektief beserings opdoen. Hy het beslis groter as die spel geraak.

frikkie ·

die probleem met ab is dat hy groter as die spel geword het. wanneer n speler kan kies wanneer hy wil en nie wil speel nie gaan dit om homself en nie meer oor krieket nie. kies liewers ouens wat wil speel

Waghond ·

Dit is insiggewend dat die suidelike-halfrondspanne te wete SA, Australie en NZ al hoe minder die septer swaai as dit by groot krieket toernooie kom.

Bloues ·

Swak besluite en swak kapteinskap.
Wanneer n man se kop te groot raak en jou voete in die wolke is, het jy moeilikheid!!
Sies, Ga Poef Skande

Fires ·

Wedstrydknoeiery wat anders? Proteas lag al die pad bank toe en die ondersteuners sit in sak en as

Chris Noordkus ·

Ek verstaan die Proteas gaan voortaan deur” Vicks Cough Drops” geborg word om te verhoed dat hulle” choke”

Snoefels ·

Ek hoop dis die groen ene, die rooi ene is walglik sleg hehe

LOSKOP ·

A B DE VILLIERS en DU PLESSIS moet nie saam in een span gekies word nie , ek glo die spelers weet nie meer wie eintlik die kaptein is nie . Die uit hardloop van DE VILLIERS en MILLER is DU PLESSIS se skuld en dit het voorgekom of dit hom glad nie pla nie Du Plessis WERK TEEN de villiers

Lance ·

Faf is ń beter kaptein as ab,jy sien sommer die optrede van die spelers is meer lewendiger en sy veldplasing soveel beter.Met die IPL was sy vertoning pateties veral teenoor Kholi sin.Hy het daar en teen Engeland gechoke.So goed soos wat hy was so swak is hy nou.

MANIE ·

Dit wat gebeur in krieket is presies wat gebeur in rugby. Die rede is politieke inmenging van die regering. Die regering bepaal wie mag speel en wie nie maar as die resultaat so swak is soos gister maak hulle nie hulle monde oop.Die sportmense word vertrap maar hulle kom skotvry. Kyk maar hoe het die pawiljoen gelyk met Saterdag se toets. Half vol. Dit se die regering het hom lelik misgis deur te dink mense gaan betaal vir n geknoeiery in die sportsoorte.

Frans C ·

Van hierdie spelers verdien reuse bedrae geld in die IPL,waar de Villiers amper ‘n kultusfiguur is.In die verkorte weergawe is daar nie tyd om jouself in te grawe nie.As ‘n mens sien op watter amper roekelose wyse kolwers hul paaltjies weggooi,lyk dit of hul sukkel om aan te pas in die langer formaat.

Dink dit gaan ‘n goeie jaar vir die Springbokke wees,want dit is opmerklik dat as die krieketspan goed vaar is die Springbokke swak en omgekeerd,maar selde is beide bo.

CF ·

Ek persoonlik dink Faf is ‘n beter kaptein as AB. Die choke-ding raak nou al afgesaag. Hulle moet hulle act verbeter!

Uvonka ·

Ag shame dit was nou ‘n slegte verloor, my hart ween nog steeds. Plaas ek maar eerder gestryk het.

Andre ·

SWAK, ek was sommer so kwaai ek het afgesit en ‘n movie gekyk. Daar was eenkeer wat die kamera die SA afrigter gewys het. Dit het gelyk of hy net jokes maak en lag. Wat lag jy ou maat? kry jou span in orde, jy is nie veronderstel om maatjies te speel nie. Ek dink ook, Faf is ‘n baie beter kaptain, kyk net onlangs toe Faf kaptein was teen NZ, ons het so goed gedoen ! Waar is Riley, Steyn ? … Ek like AB, maar hy moet eerder net doen wat hy goed is en bat, los die kapteinskap oor aan iemand anners !!

Johann Marx ·

Ek hoor Indië het FAF genomineer as hulle “Man of the Match”, né? ‘n Mens kan nie help om te wonder nie…..Die totale toernooi omset is 200 Miljoen Pond, en die “side betting” ‘n allamintige 2 Biljoen Pond? As jy jou geldjie op die regte plek sit, en twee van jou spanmaats uithardloop omdat jy nie kon “hoor” nie……is jou wedstryd geld eintlik “small change”…???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.