Proteas maak litte teen Afghanistan los

Tabraiz Shamsi is die voorste T20-bouler ter wêreld. Foto: Hansie Linde.

Die Proteas se opwarmingswedstryde begin vandag met ’n kragmeting teen Afghanistan in Dubai. En ten spyte van die feit dat die Suid-Afrikaners hul laaste drie mik-en-mokerreekse gewen het, sal die voorbereidingswedstryde van onskatbare waarde wees.

Want kom ons wees eerlik met mekaar: ’n Mens is nog effens onseker hoe die Proteas se beste elftal lyk.

Temba Bavuma het gesê hy wil die beurt open; sal daar dan plek vir Aiden Markram en Reeza Hendricks in die span wees?

Gaan die ander kolwers ook lopies slaan, of gaan ons al die hoop op Quinton de Kock vestig?

Sal die boulaanval grotendeels uit draaiers bestaan, of sal Anrich Nortjé ook darem losgelaat word ná sy goeie vertonings in die afgelope Indiese Premierliga?

Gelukkig is daar iets wat in die Proteas se guns tel: Anders as met vorige Wêreldbeker-toernooie verwag niemand veel vuurwerk van Bavuma se troepe nie; selfs al het hulle heel skaflik teen die Wes-Indiese Eilande, Ierland en Sri Lanka vertoon.

En wanneer niemand veel van ’n span verwag nie, is dit altyd lekker om die kritici verkeerd te bewys. ’n Mens sal net moet wag en kyk of hierdie Protea-span dit kan doen.

Moet ook nie Afghanistan onderskat nie; Skotland het immers vroeër met Bangladesj klaargespeel.

Vandag se aksie begin om 12:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word. Die Suid-Afrikaners speel Woensdag in hul laaste voorbereidingswedstryd teen Pakistan.

  • Protea-groep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Aiden Markram, David Miller, Rassie van der Dussen, Wiaan Mulder, Dwaine Pretorius, Bjorn Fortuin, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi. Reserwes: George Linde, Andile Phehlukwayo en Lizaad Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Tyd sal leer.

Andre

Hierdie tipe krieket verlang groot slaners wat die bal oor die grens kan lig. Is Bavuma instaat om dit te doen en die antwoord is nee. Een groot rede waarom SA moontlik weer gaan faal

Anton

Nie so nie