Proteas maak skoonskip-deurbraak teen Australië

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Suid-Afrika het Woensdag op Nuweland in Kaapstad die eerste krieketspan geword om skoonskip te maak in ʼn reeks van vyf eendagwedstryde teen Australië.

Die Proteas het met 31 lopies gewen, ondanks ʼn baie spesiale kolfbeurt deur die Australiese aanvangskolwer, David Warner. Sy skitterende 173 in 136 balle met 24 viere was sy tweede honderdtal in die reeks en die hoogste telling deur ʼn Australiese kolwer in ʼn eendagwedstryd teen Suid-Afrika.

Warner is uiteindelik uitgehardloop toe hy die boulwerk, met agt paaltjies plat, probeer behou het. Hy het die besoekers deurgaans in die prentjie gehou nadat hy op 11 van Kagiso Rabada se boulwerk deur die paaltjiewagter Quinton de Kock laat val is.

De Kock het voor Hashim Amla ingeduik. Rabada, wat weer wisselvallig en ook duur was, moes ook toesien hoe Mitchel Marsh (deur Kyle Abbot) van sy boulwerk laat val is.

Benewens die vangskote was Suid-Afrika se veldwerk nie deurgaans op sy kop nie en dikwels sommer net slordig.

Marsh het sy gegunde lewe goed gebruik en 35 aangeteken. Dit het die toerspan en sy ondersteuners hoop gegee tydens sy vennootskap van 64 met Warner. Rabada het egter vir Marsh op 139/4 skoongeboul.

Dit was die vierde van die eerste vier paaltjies waar die kolwers almal skoongeboul is nadat Imran Tahir twee paaltjies in sy eerste boulbeurt geneem het nadat die Australiese aanvangskolwers, Warner en Finch, 72 in 13,4 boulbeurte aangeteken het. Andile Phehlukwayo het ook die balkies laat spat en die drie paaltjies in 16 balle, en die telling op 75/3, het Suid-Afrika weer laat asem skep.

Warner was onversteurd en berekenend en hy het sy span al hoe nader wenpaal toe gekolf.

Maar Warner se ondersteuning deur sy kolfmaats was eenvoudig afwesig. Die res van die span het, saam met die 15 ekstras, net 123 van die 296 lopies bygedra.

♦  Die groot kolfheld van die Proteas was Rilee Rossouw wat sy derde eendag-honderdtal en die eerste in hierdie die reeks geslaan het.

Hy het met dié honderdtal, en ook vir sy twee goeie voorgaande beurte én die meeste lopies in die reeks, die toekenning as speler van die reeks gekry. Dit is ʼn merkwaardige prestasie vir die man wat in die beseerde AB de Villiers se plek nadergetrek is.

Rossouw het Woensdag, met ʼn vinger wat gekraak is, 122 lopies in 118 balle (14 viere en twee sesse) aangeteken. Hy het saam met JP Duminy (73 in 75 balle) met 178 lopies om die vierde paaltjie die Proteas gered nadat  Amla (25), De Kock (12) en Faf du Plessis (11) se vroeë paaltjies die Proteas op 52/3 laat wankel het.

David Miller, met ʼn vinnige 39, het ook stewig bygedra en die Aussies die taak gelaat om 328 aan te teken, wat ʼn rekord wenteiken op Nuweland sou wees.

Opgesomde telkaart

Suid-Afrika 327/8 (50 beurte): Kolwers: Rilee Rossouw 122, JP Duminy 73, David Miller 39. Boulers: Joe Mennie 3/49, Chris Tremain 3/64.

Australië 296: Kolwers: David Warner 173, Mitchell Marsh, Travis Head 35, Aaron Finch 19). Boulers: Imran Tahir 2/42, Kyle Abbott 2/48, Kagiso Rabada 2/84.

SA wen met 31 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard ·

Wel gedaan boytjies…nou moet ons hulle net in Aus. gaan kafdraf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.