Proteas maak skoonskip teen Australiërs

Marnus Labuschagne het met die kolf vir Australië beïndruk om sy eerste eendaghonderdtal aan te teken. (Foto: Twitter)

Toe Heinrich Klaasen gister in Potchefstroom die wedstryd met ’n ses vir Suid-Afrika gewen het, het die res van die Protea-kolwers weer eens gewys dat hulle wedstryde kan wen selfs wanneer Quinton de Kock vroegerig sy paaltjie verloor.

Die Proteas het die laaste eendagwedstryd met ses paaltjies gewen om die eendagreeks teen Australië met 3-0 te beklink. En dit was veral die kolfwerk van Jon-Jon Smuts (84), Klaasen (68) en Kyle Verreyne (50) wat die Protea-wa deur die drif getrek het.

Vroeër het Klerksdorp se Marnus Labuschagne, of “Maanis La-boo-shane” as jy van Australië afkomstig is, sy eerste eendaghonderdtal vir sy aangenome land geslaan.

Die 25-jarige Labuschagne het 108 lopies aangeteken en hy het gesorg dat die besoekers ’n mededingende telling van 254/7 op die telbord gesit het.

Waar Kevin Pietersen in 2004 deur die Suid-Afrikaanse ondersteuners uitgejou is toe hy sy eerste honderdtal in sy geboorteland geslaan het, het die Potch-ondersteuners vir Labuschagne staande toegejuig toe hy sy mylpaal bereik het.

Jon-Jon Smuts het 84 lopies vir die Proteas geslaan. (Foto: Twitter)

Hy is egter deur die indrukwekkende Anrich Nortjé (2/35) in die laaste boulbeurt skoongeboul. Van die blitsige Suid-Afrikaanse snelbouler se aflewerings is teen vinniger as 150 km/h gemeet.

Met Mitchell Starc terug in Australië om sy vrou, Alyssa, in die eindstryd van die T20-wêreldbeker te ondersteun, het Quinton de Kock en Janneman Malan stewig vir die Suid-Afrikaners begin.

Veral De Kock was aggressief en hy het ’n paar goeie sesse – waarvan een reusehou ’n kameraman teen die kop getref het – geslaan. Hy is egter met sy telling op 26 deur Josh Hazlewood skoongeboul.

Malan het kort daarna vertrek, maar Smuts en Verreynne het ’n bobaasvennootskap van 96 lopies om die derde paaltjie geniet met veral Verreynne wat met sy houespel beïndruk het.

Daarna het Klaasen lekker aggressief gespeel om toe te sien dat die Proteas die wedstryd op ’n drafstap gewen het.

Die Suid-Afrikaners se volgende reeks begin binnekort in Indië met Malan wat genoeg gedoen het om ook sy vliegtuigkaartjie na Asië te bespreek.

Dit is die Proteas se tweede agtereenvolgende tuisreeksoorwinning oor Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dubbelloop ·

Dit is goed om te sien die nuwelinge in die span steek hul hande op. Vir ń 50 of 20 boulbeurt wedstryd is daar nie plek vir n Faf du Plessis en Rassie vd Dussen nie. Hierdie manne speel vir hulle eer en vedien om te speel. Ek is ook nie seker of Rabada op hierdie stadium enige vd boulers uit die span kan hou nie. Sy spelpeil is nie op standaard vir Internasionaal nie. Die afrigters moet hom maar slyp.

MJ ·

Dit was weer lekker om krieket te kyk, die laaste 3 westryde.
Mooi so Proteas, trots op julle !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.