Proteas moenie nou die bal laat val

Die Proteas skaaf aan hul glipveldwerk. Die Suid-Afrikaners se veldwerk was aansienlik beter in die eerste toets teen die Windies. Foto: Randy Brooks/AFP.

Wanneer ’n mens uitsluitlik op die Proteas se vertoning op die veld konsentreer, is dit uiters belangrik dat hulle nie nou die bal in die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande laat val nie.

Want die een ding skaarser as hoendertande is ’n Protea-reeksoorwinning.

Ja, die Suid-Afrikaners het die eerste toets in St. Lucia oortuigend met ’n beurt en 63 lopies gewen, maar hulle het ’n paar keer vantevore in hul onlangse geskiedenis al hul harde werk in net die volgende kragmeting ongedaan gemaak; iets wat nie sommer in die gloriedae van Graeme Smith, Jacques Kallis en Dale Steyn sou gebeur het nie.

Dit was veral die Proteas se snelboulers wat die Windies hoofbrekens gegee het. Anrich Nortjé het sewe kolwers terug na die kleedkamer gestuur, terwyl Kagiso Rabada (ses) en Lungi Ngidi (vyf) ook baie suksesvol was.

Maar hoewel al die blitse ’n belangrike rol in die span vertolk, is dit Nortjé wat deur die Protea-bestuur in watte toegedraai moet word.

In die afgelope jaar het hy reeds 27 paaltjies (13 meer as Ngidi) teen ’n gemiddeld van 21,40 geneem en hy is ongetwyfeld die man op wie se knoppie daar in ’n krisis-situasie gedruk kan word.

Dieselfde kan van Quinton de Kock gesê word.

Die 28-jarige paaltjiewagter lyk weer soos die speler van ouds ná sy spogbeurt van 141 van slegs 170 aflewerings in die eerste toets.

Wanneer De Kock sy krieket geniet, is krieket skielik ’n baie meer opwindende spel.

Dan het die Suid-Afrikaners se veldwerk ook aansienlik verbeter. Hulle het 13 vangskote in die eerste toets benut en het strate beter as in Pakistan gelyk; toe ’n ontstoke Darryl Cullinan met mening vanuit die kommentaarhokkie onder die spelers ingeklim het.

Toegegee, die Windies is nie ’n baie goeie span nie. Maar hulle is sesde op die Internasionale Krieketraad se toetsranglys, terwyl die Proteas sewende is.

Die aksie begin môre om 16:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.