Proteas moet Engelse met dié spelers tem

Temba Bavuma en Quinton de Kock hardloop tussen die paaltjies. Foto: Rodger Bosch/AFP.

So tussendeur die aksie en sesse van die SA20-toernooi, gaan die Proteas ook drie eendagkrieketwedstryde teen Engeland speel.

Die Suid-Afrikaners se spelersgroep vir die kort reeks is pas bekend en oudergewoonte sal Temba Bavuma die span op die veld lei.

Die 32-jarige kolwer het weliswaar verlede jaar ʼn honderdtal teen Indië in die Paarl geslaan, maar in sy laaste ses internasionale eendagkolfbeurte kon hy nie een keer meer as 37 lopies aanteken nie.

Tog was hy die Proteas se mees bestendige kolwer tydens die nagmerrietoer na Australië.

Dan sal daar weer na kolwers soos Quinton de Kock, Janneman Malan, Reeza Hendrikcs (as hy speelkans kry) en David Miller gekyk word om lopies te slaan, terwyl Aiden Markram saam met Heinrich Klaasen en Rassie van der Dussen ook hul vaardighede sal wil uitstal.

Daar is egter nie plek vir die opwindende Dewald Brevis nie, maar volgens Victor Mpitsang (nasionale keurderbaas) behoort die 19-jarige kolwer sy kans in die komende T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande te kry.

Die snelkwartet van Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Marco Jansen is weer deel van die opset en hulle sal met meer woema as in die jongste toetsreeks teen die Aussies wil boul.

Sisanda Magala het intussen ook sy fiksheid opgeskerp en hy sal nou sy stempel op die internasionale verhoog wil afdruk. Hy tel gereeld onder die voorste plaaslike boulers.

Dit sal die Proteas se eerste eendagkrieketreeks wees sedert Mark Boucher die tuig as hoofafrigter ná die T20-Wêreldbeker neergelê het.

Rob Walter is intussen as die nasionale witbalkrieketafrigter aangestel, maar hy moet eers sy laaste pligte saam met Central Stags in Nieu-Seeland nakom.

Shukri Conrad (toetsafrigter) sal aan die stuur van die span vir die komende reeks wees.

Die eerste wedstryd van die Engeland-toer begin op 27 Januarie in Bloemfontein.

Protea-groep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Sisanda Magala, Keshav Maharaj, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi en Rassie van der Dussen.

Engeland: Jos Buttler (kaptein), Moeen Ali, Jofra Archer, Harry Brook, Sam Curran, Ben Duckett, Dawid Malan, Adil Rashid, Jason Roy, Phil Salt, Olly Stone, Reece Topley, David Wiley en Chris Woakes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

George ·

Glad nie sleg nie boys. Nou moet julle net vir Janneman nog toetse toe bring.

Thelsa ·

Kan die verwelkte Protea uit die Aussie-as opstaan? Ons sal maar op ons knieë bly.

MAGRIETHA ·

Hoe lank moet brevis nog uit die span gehou word een van die dae is hy ook verlore vir sa

Manie ·

Brevis het nog net 1 uit 4 goeie beurte in die huidige reeks gespeel en blyk nog nie opgewasse op die vlak te wees nie.

CRDP ·

Reeza Hendricks is glad nie op form nie, hy sukkel al baie lank op die vlak. Hy is gelukkig om die span te haal. Maar ja sy Pa het seker die lapa by SA krieket se hoofkantoor gesponser of iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.