Proteas moet lig loop vir gevaarman Russell

Andre Russell laat waai met die kolf terwyl Suid-Afrika se Quinton de Kock toekyk. Foto: Cricinfo.

Op 10 Junie speel die Proteas in hul vierde Wêreldbekerwedstryd teen Wes-Indië op die Ageas Bowl-stadion in Hampshire.

En hoewel die Proteas in die vorige toernooi in Australië en Nieu-Seeland lag-lag met die eilandmanne klaargespeel het (te danke aan AB de Villiers en kie se kanonkolwe), sal hulle vanjaar meer versigtig vir Jason Holder se span moet wees.

Die Windies was vroeër in ’n skitterende eendagreeks teen Engeland gewikkel met tellings van 300+ wat gereeld opgestapel is, én suksesvol gejaag is.

Twee van hul gevaarmanne is beslis Chris Gayle en Andre Russell. Met veral Russell wat tans die wêreld aan die brand in die Indiese Premierliga speel.

Die veelsydige Russell het pas weer ’n onoorwonne 80 lopies van slegs 40 aflewerings vir die Kolkata Knight Riders teen die Mumbai Indians geslaan. Sy beurt het ses grenshoue en agt massiewe sesse ingesluit en vir KKR in staat gestel om 232/2 in hul toegelate 20 boulbeurte aan te teken.

Hy het tans 50 sesse in 11 wedstryde geslaan en sy 486 lopies teen ’n belaglike treftempo van 207 aangeteken.

Russell het laas in 2015 vir die Windies in eendagkleure uitgedraf, maar hy is oorgehaal om ’n verskil in die komende Wêreldbeker te maak.

“Ek is tans só honger om Wes-Indië by die Wêreldbeker te verteenwoordig,” het hy aan www.icc-cricket.com gesê.

“Ek wil vir hulle speel soos wat ek tans vir KKR speel. Ek wil sesse slaan en honderdtalle aanteken.”

Hoewel die Wes-Indiër tans die beurte van sy loopbaan speel, is daar darem ’n silwer randjie vir die Proteas in Russell se lopiesonweerswolk: Kagiso Rabada het hom vroeër met die perfekte streepbal in ’n Super Beurt terug na die kleedkamer gestuur.

Die Wes-Indiërs is altyd onvoorspelbaar in eendagkrieket, maar met Russell, Gayle en Shimron Hetmyer weet jy darem wat om te verwag: kolwe wat soos kanonne gaan bulder.

Wes-Indië se groep vir WB 2019: Jason Holder (c), Chris Gayle, Andre Russell, Sheldon Cottrell, Shannon Gabriel, Kemar Roach, Nicholas Pooran (wk), Ashley Nurse, Fabian Allen, Shimron Hetmyer, Shai Hope (wk), Oshane Thomas, Carlos Brathwaite, Darren Bravo, Evin Lewis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.