Proteas moet nie afgeskryf word ná neerlaag

Faf du Plessis – druk op hom en sy kolfmaats (Foto: GB Jordaan)

Is ʼn span regtig net so goed soos in sy laaste wedstryd?

As daar enige waarheid in dié stelling steek, is die Proteas in die moeilikheid ná sy neerlaag Donderdag met 72 lopies teen ʼn Engelse span wat sy laaste sewe eendagwedstryde gewen het.

Maar aan die ander kant, as in aanmerking geneem word dat die Proteas nommer een op die wêreldranglys is en sy sewe laaste eendagreekse gewen het, kan hy nog lank nie afgeskryf word nie.

Die tweede (van drie) eendagwedstryde vind Saterdag by die Ageas Bowl in Southampton plaas. Die kolfblad behoort die kolwers goedgesind te wees hoewel dit moontlik ʼn bietjie sal draai.  Sonskynweer word voorspel.

Die Proteas, en veral die boulers, het Donderdag ʼn bietjie verroes voorgekom. Dis onwaarskynlik dat Kagiso Rabada weer so effentjies sal vertoon en dat die boulers weer 11 van die 18 ekstras met foutballe en wydlopers sal afstaan.

Dit lyk waarskynlik dat veranderinge vir Saterdag gemaak sal word. Morné Morkel sal moontlik meer deurdringing bring terwyl die veelsydige speler Dwaine Pretorius seker beter beheer as Wayne Parnell en Andile Phehlukwayo kan toepas.

Imran Tahir het ook nie ʼn goeie wedstryd gehad nie. Die Engelse het hom sekerlik goed deurgekyk en hulle het sy draaibalverskeidenheid goed gelees.  Hy was veral teen die linkskolwers Ben Stokes en Eoin Morgan oneffektief waar sy goëlbal vir hulle eerder wydte buite die wegpen verskaf het as die regshandiges se geskarrel om die verbloemde wegbreek die hoof te bied.

Maar dit is onwaarskynlik dat ʼn bouler wat 43 paaltjies in sy laaste 26 eendagwedstryde ingepalm het, sy plek in die span sal verloor.

Engeland se waardevolste speler, Ben Stokes, is Vrydag fiks verklaar vir die wedstryd nadat sy knie hom Donderdag effens gepla het.

Die Engelse span het geweldige kolfdiepte en tien van hulle het eersteklas honderdtalle agter hul name.

Suid-Afrika se kolfkrag is indrukwekkend, mits die kolwers nie hulle paaltjies wegsmyt soos in Donderdag se wedstryd nie.

AB de Villiers en sy span sal hard baklei om te wen en steeds ʼn kans te hê om die reeks in Maandag se derde wedstryd te beklink.

 

SA A-span begin Engelse toer

Die SA A-span begin Saterdag sy maand lange toer na Engeland met ʼn opwarmingswedstryd teen Yorkshire in Leeds.

Die afrigter, Shukri Conrad, sê die span is vasbeslote om die reeks teen die Engeland Lions te wen deur werklik goeie krieket te speel.

Hulle begin Donderdag met die eerste van drie eendagwedstryde teen die Lions wat deur ʼn vierdagwedstryd gevolg word.

Die span is gelaai met spelers met internasionale ondervinding soos Temba Bavuma, Theunis de Bruyn, Tabraiz Shamsi, Dane Piedt en Duanne Olivier.

Daar is ook jonger spelers in die groep wat in die plaaslike krieketseisoen uitgeblink het en manne soos Jon Jon Smuts, Aiden Markram, Khaya Zondo, Lungisani Ngidi en Jason Smith kan met goeie vertonings hulle kanse verstewig om internasionale krieket te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lance ·

As jy die IPL gevolg het is daar min hoop behalwe vir Tahir en Amla wat uit blinkers was,tyd vir nuwe spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.