Proteas neem wraak met reeksoorwinning

Anrich Nortjé en Aiden Markram vier ’n paaltjie. Foto: © Christiaan Kotze/C Photographic Agency.

Die Proteas het die toetsreeks teen Sri Lanka met 2 – 0 beklink toe die Suid-Afrikaners vroeër vandag (Dinsdag) die tweede toets op die Wanderers met tien paaltjies gewen het.

Sodoende het die tuisspan vir verlede jaar se skoknederlaag vergoed toe die eilandmanne die eerste span in Asië geword het om ’n toetsreeks in Suid-Afrika te wen.

Die Protea-snelboulers het vanoggend korte mette met die besoekers se kolwers gemaak en hulle het ses vinnige paaltjies laat spat.

Anrich Nortjé het oudergewoonte met sy vaart en aggressie beïndruk terwyl Lutho Sipamla gewys het waartoe hy in staat is. Maar die boulvonds van die reeks is ongetwyfeld Wiaan Mulder.

Die jong veelsydige speler is weliswaar deur Lungi Ngidi en Sipamla in dié beurt oorskadu, maar hy het sy waarde tot die Suid-Afrikaanse toetsspan tydens die reeks onderstreep.

Hy laat ’n mens baie aan Vernon Philander dink – hy is akkuraat, bestendig en hy toor net genoeg met die bal om die buiterandjie van die kolf te vind.

Suid-Afrika se glipveldwerkers. Foto: © Christiaan Kotze/C Photographic Agency

So van buiterandjies gepraat: Die tuisspan se glipveldwerkers het goed vertoon en hoewel hulle nog nie dieselfde aansien as Jacques Kallis, Graeme Smith en AB de Villiers geniet nie, het Rassie van der Dussen en Kie. darem met ’n paar vangskoot-juwele van hul eie vorendag gekom.

Wat kolfwerk betref het Dean Elgar gewys dat hy ’n goeie kandidaat is om die permanente Protea-toetskaptein te word.

Die linkshandige openingskolwer het 253 lopies teen ’n gemiddeld van 126,50 gemoker. Ja, skrywers van kriekethandleidings gaan seker nie altyd foto’s van sy kolfwerk wil gebruik om die perfekte dryfhou te beskryf nie; maar ’n grenshou van Elgar se kolf tel net soveel as een van Daryll Cullinan se wilgerlat.

Dean Elgar. Foto: © Christiaan Kotze/C& C Photographic Agency

Die Proteas se volgende bestemming is die draaiersparadys van Pakistan. Of die Suid-Afrikaners se kolwers en boulers opgewasse vir dié avontuur is, is nog ’n ope vraag.

Maar Mark Boucher het sy eerste toetsreeks as Protea-afrigter gewen en ná al die drama wat die afgelope ruk die hoofopskrifte gehaal het, is ’n goeie vertoning op die veld darem iets om te waardeer.

  • Reeks se voorste boulers:
  1. Anrich Nortjé (Suid-Afrika) 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,18.
  2. Lutho Sipamla (Suid-Afrika) tien paaltjies teen ’n gemiddeld van 16,70.
  3. Wiaan Mulder (Suid-Afrika) nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 20,55.
  4. Vishwa Fernando (Sri Lanka) agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 28,75.
  5. Lungi Ngidi (Suid-Afrika) sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 27,14.

 

  • Reeks se voorste kolwers:
  1. Dean Elgar (Suid-Afrika)
  2. Faf du Plessis (Suid-Afrika) 207 lopies teen ’n gemiddeld van 103,50.
  3. Kusal Perera (Sri Lanka) 141 lopies teen ’n gemiddeld van 35,25.
  4. Dimuth Karunaratne (Sri Lanka) 133 lopies teen ’n gemiddeld van 33,25.
  5. PWH de Silva (Sri Lanka) 122 lopies teen ’n gemiddeld van 30,50.

 

  • Bepalings vir Suid-Afrika se toer na Pakistan:

26 Januarie: Eerste toets

4 Februarie: Tweede toets

11 Februarie: Eerste T20-wedstryd

13 Februarie: Tweede T20-wedstryd

14 Februarie: Derde T20-wedstryd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.