Proteas nou onder topvier toetsspanne

Tom Latham en Dean Elgar ná die reeks tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika gelykop geëindig het. Sanka Vidanagama / AFP.

AB de Villiers het in ’n onlangse onderhoud gesê dat toetskrieket sy gunstelingformaat van die spel is.

“Ek dink die meeste spelers sal daarmee saamstem. Daar is niks meer lonend as om vir vyf dae jou beste saam met jou spanmaats te gee nie; dit is die grootste en lekkerste uitdaging,” het De Villiers gesê.

En onder Dean Elgar se leierskap is die Proteas op koers om weer ’n gedugte toetsspan te word.

Volgens die Internasionale Krieketraad is Suid-Afrika tans vierde op die wêreldtoetsranglys en binne trefafstand van Nieu-Seeland in die derde plek.

Onder die hardebaard-openingskolwer se leiding het die Proteas al met die Wes-Indiese Eilande, Indië en Bangladesj afgereken, terwyl hulle gelykop teen Nieu-Seeland (weg van die huis) gespeel het.

“Ek is baie trots op die toetsspan se vertoning die afgelope somer. Daar was lekker diepte en die groeplede het hulself goed van hul taak gekwyt,” het Elgar ná die suksesvolle reeks teen Bangladesj gesê.

Met spelers soos Anrich Nortjé (wanneer hy fiks is), Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Simon Harmer en Keshav Maharaj beskik die Proteas oor ’n gedugte boulaanval wat sekerlik paaltjies op enige kolfblad kan neem.

Hoewel die kolwers heel skaflik teen die Indiese snelaanval gevaar het, sal hulle egter hul sokkies moet optrek.

Honderdtalle plaas teenstanders onder druk, nie tellings van 30 of 40 nie.

Maar, om vir Nieu-Seeland se Brendon McCullum aan te haal: Die Proteas is ’n perd van ’n ander kleur onder Elgar – rateltaai en gereed vir enige tweestryd.

Mark Boucher tydens een van die Proteas se oefensessies. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Tog hang Mark Boucher se komende tugverhoor soos ’n swaard bo die span se kop.

Dinge wat in Krieket Suid-Afrika se raadsale afspeel, het beslis ’n invloed op die span se vertoning. Selfs al sou die Protea-hoofafrigter onskuldig bevind word, sal die dissiplinêre aksie ongetwyfeld ’n paar letsels laat – vra net vir Graeme Smith.

Twee onafhanklike arbiters het verlede maand bevind dat die bewerings van rassisme teen die oudkaptein geen gewig dra nie.

“Om hierdie ongegronde bewerings van rassisme te hoor was uiters moeilik; nie net vir myself nie, maar ook vir my gesin,” het Smith in ’n verklaring gesê.

En Boucher is ongetwyfeld in dieselfde bootjie.

  • Jongste IKR-toetsranglys:
  1. Australië: 128 punte
  2. Indië: 119 punte
  3. Nieu-Seeland: 111 punte
  4. Suid-Afrika: 110 punte
  5. Pakistan: 93 punte
  6. Engeland: 88 punte
  7. Sri Lanka: 81 punte
  8. Wes-Indiese Eilande: 77 punte
  9. Bangladesj: 51 punte
  10. Zimbabwe: 25 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris dupreez ·

Ek twyfel of jy weet wie almal in die Protea span is en wie die kaptein is , en ook of jy enige iets van krieket af weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.