Proteas onder hewige druk in Indië

Faf du Plessis word skoongebou. (AP Photo/Mahesh Kumar A.)

Ná twee loesings is die Protea-krieketspan met hul rug teen die muur in Indië. Faf du Plessis se troepe het die eerste toets met 203 lopies verloor en die tweede toets met ’n beurt en 137 lopies – hul grootste nederlaag nóg teen Indië.

Met die reeksoorwinning reeds in die sakkie, sal Indië die strop selfs stywer om die Protea-nekke wil trek – veral met punte in die Wêreldtoetskrieket-kampioenskap op die spel.

“Ons gaan beslis nie ons voet van die versnelpedaal haal nie,” het ’n veglustige Virat Kohli aan ESPN Cricinfo gesê.

Die Indiese kaptein se spelpeil is vuurwarm – sy onoorwonne beurt van 254 lopies in Pune is meer as wat die ganse Protea-kolflys in hul tweede beurt in dieselfde toets kon aanteken.

“Wanneer ’n kolwer sukkel, is dit ’n diep gat waaruit hy moet kruip,” het Faf du Plessis gesê.

En daar is omtrént diep gate waaruit die Protea-kolwers moet worstel.

Dean Elgar (160) en Quinton de Kock (111) se uitstekende honderdtalle in die eerste toets voel reeds ver in die verlede en die geploeter van Aiden Markram, Temba Bavuma en Theunis de Bruyn sorg vir ’n wrang smaak in die ondersteuners se monde.

Kanse is goed dat Zubayr Hamza en Heinrich Klaasen speelkans in die derde toets kan kry met Markram en De Bruyn wat waarskynlik die koeldranke sal aandra.

Bavuma se plek is waarskynlik veilig.

Maar die Proteas se boulwerk sukkel ook kwaai.

Kagiso Rabada. Foto: ANA.

Die Suid-Afrikaanse boulaanval – wat vantevore opposisie-kolwers laat bontstaan het – kon vyf toetse gelede laas 20 paaltjies in ’n toetswedstryd laat kantel.

“Ons was onder enorme druk en ek dink nie ons kán onder kwaaier druk as die afgelope ruk geplaas word nie,” het Kagiso Rabada aan dieselfde webblad gesê.

Rabada – wat tot dusver net vier paaltjies teen ’n gemiddeld van 50.00 in die reeks kon neem – voel dat die Indiërs beter as ’n eenheid geboul het en dat hulle reeds vroeg in die beurt omgekeerde swaai kon bewerkstellig.

“Dit is nooit lekker om te verloor nie, veral nie op die manier waarop ons nou wedstryde verloor nie, maar ons gaan deur ’n oorgangstydperk.”

Hy het bygevoeg dat die Proteas moet begin glo hulle kan wel in enige toestand goed speel.

  • Suid-Afrikaanse kolwers in Indië (die eerste ses kolwers in die Protea-kolflys):
  1. Dean Elgar: 216 lopies teen ’n gemiddeld van 54.00, hoogste telling van 160.
  2. Aiden Markram: 44 lopies teen ’n gemiddeld van 11.00, hoogste telling van 39.
  3. Theunis de Bruyn: 52 lopies teen ’n gemiddeld van 13.00, hoogste telling van 30.
  4. Temba Bavuma: 64 lopies teen ’n gemiddeld van 16.00, hoogste telling van 38.
  5. Faf du Plessis: 137 lopies teen ’n gemiddeld van 34.25, hoogste telling van 64.
  6. Quinton de Kock: 147 lopies teen ’n gemiddeld van 36.75, hoogste telling van 111.
  • Die boulers vaar glad nie beter nie:
  1. Kagiso Rabada: vier paaltjies teen ’n gemiddeld van 50.00.
  2. Vernon Philander: twee paaltjies teen ’n gemiddeld van 77.50.
  3. Keshav Maharaj: ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 85.66.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Stefaans ·

Geen verassing dat Bavuma se plek in die span veilig is nie!!!!!!!! Hy kolf glad nie die wêreld aan die brand nie. Persoonlike mening is dat toetskrieket ook ‘n trappie te hoog is vir hom. Daar is egter ander individue wat glad nie op die internasionale verhoog , hoort nie.

Vita ·

Krieket baas se hulle bou weer, ons bou nou al 25 jaar met die kwotas, nou die afrigter ook n kwota,so dit nog 25 jaar wat ons gaan wag, en Faf moet maar aftree en Bavuma kapt maak ,dan wag ons lekker

Anoniem ·

Hoekom is Bavuma se posisie in die span dan veilig terwyl sy gemiddelde slegs 16 lopies is? Ek stem saam, Markram en de Bruin is hopeloos van vorm af, vervang hulle dus gerus, maar moenie vir Bavuma spaar nie.

Dubbelloop ·

Ons het nie n afrigter nie!!! Nie vir kolfwerk of boulwerk nie…Daar is talentvolle spelers maar geen afrigter wat hulle kan help nie. Die kaptein is useless, in alle opsigte. Geen van daai spelers se koppe is meer reg nie. Ek is self n sportman en ek weet waarvan ek praat. Sodra jy nie meer vertroue in jou eie spelpeil het nie, en daar is niemand vd kantlyn af om jou te kan help nie, dan het jy probleme. Dit is presies waar die hele Blommekinders span nou hulleself bevind. Bad news!

Ontevrede ·

Kom huis toe Proteas!!!Julle maak skande!Nog nooit in die geskiedenis het n span n Land so verneder soos julle nie!!Jammer Faf en Dean!!Julle honderdtalle is lankal vergete!!Vervang die afrigter dadelik!!

JohanL ·

Aan almal wat advies uitdeel oor spelers en afrigter wat vervang moet word.

Ek wil graag weet – noem asb die plaasvervangers?

En……. voor julle my aanval. Ek bedoel dit nie lelik nie en ek impliseer nie dat julle verkeerd is nie. Inteendeel ek stem saam met van die name wie julle wil vervang. Maar ek stel belang in jul name, want ek dink ons het weinig in SA om uit te kies!!! Groot kopseer.

Kom ons neem aan ons mag geen Kolpak speler kies nie, want dit is die ongelukkige realiteit. Al wil ek as keurder hoe graag bv Riley Rossouw kies, ek kan nie. So kom ons kyk na die wat ons mag kies.

Jul opinie asb?

Johan Pretorius ·

Daar is te veel spelers wat oorsee speel en nie meer belangstel om vir SA te speel nie as gevolg van politiek in sport.

Martin Dreyer ·

Johan Pretorius. Jy is 100% reg. Dis so eenvoudig soos dit.

Dubbelloop ·

Johan L,
As jy kyk way ek geskryf het stem dit met wat jy vra en sê. Kry die regte afrigters in bv. Hoof afrigter miskien Boucher, kolf afrigter, Niel McKenzie, boul afrigter, Klusener. Dit is maar die name wat ek weet wat betrokke is by krieket. Markram is n uitstekende talentvolle speler, belê in hom. So ook Rabada. Hulle is daar. Ons moet vergeet van politiek. Onder blankes, swart, bruin is daar genoeg. Vat die bestes onder hulle en sorg dat hulle die beste afrigring kry. ‘n Oordentlike “kop dokter” is ook nodig.

JohanL ·

Dubbelloop – dankie vir opinie.

Afrigter : Gary Kirsten of Stephen Fleming of Mark Boucher.
Ons weet Gary sal nie aansoek doen nie, maar hy my eerste keuse. Fleming uitstekende strateeg. Sal hy belangstel? Weet nie. Sal KSA buitelander kies? Waarskynlik nee. Mark Boucher – uitstekende keuse. Kyk wat het hy by Titans gedoen. Ek weet die sg “slim” mense by KSA reken hy het nie die nodige kursusse agter sy naam nie!!!! Belaglik.

Met Gary daar het ons kolfafrigter nodig? Goed as Mark afrigter is, ja – McKenzie kolfafrigter. Wat van S Pollock as boulafrigter?

Spelers – stem saam dat die wat daar is, is waarskynlik die beste uit die spelers wat beskikbaar is. J Malan klop hard aan deur, maar ons moet onthou die plaaslike standaard is swak en berei mens nie voor vir internasionale krieket nie.

Spankeuses sal ook hopelik verbeter onder nuwe afrigter. Ongelukkig hou bv Philander nie ‘n groot bedreiging in op Indiese kolfblaaie nie.

En nou? ·

Ek hou van jou keuses, maar dit mag nie werk nie… Boucher, McKenzie en Klusener is almal wit!

George in Bloem. ·

Dalk maar tyd geword om op te hou voorgee. Maak die SA Krieketunie tot niet en laat die ANC sport minister maar die span kies(hulle doen in elkgeval al lankal) en hom sommer afrig ook. Mense wil nie eintlik verder na hierdie patetiese getjommel kyk nie en Krieket SA gaan dit aan hulle beursie voel vroeer eerder as later as hulle nie dringend hierdie skippie omdraai nie.

Ou Sopbeen ·

JohanL, Jy is toetaal reg as jy se dat daar groot onreg teen alle sportmanne/vroue gepleeg word. Vanaf die swart en wit stories deur die politici begin is, is dit letterlik nag en afdraende vir Suid Afrika wat voorheen as een van die sterkste sport lande in die wereld gesien is. Mense kan nie opgehef word deur hulle bloot in die diepkant in te gooi nie. Ek wens die politici wil dit besef. Hulle mors net met ons en ons land se reputasie. Internationale atlete (sportmanne) word net oor jare gebrei vir die strawwe kompetiesie. En dan is die speelveld ook nog toetaal ongelyk in Indie.Ou dae het ons die Indiers met 5 snel /naatboulers aangevat en hulle verneder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.