Proteas: ‘Ons het ons beste gegee’

Faf du Plessis moes al bontstaan vir die media se vrae tydens vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Cricinfo.

Die laaste keer dat die Proteas in ’n Wêreldbeker-wedstryd op Edgbaston gespeel het, was op 17 Julie 1999 – in ’n halfeindstryd wat die meeste ondersteuners maar eerder uit hul geheuebank wil wis.

Want op daardie dag het die groot Allan Donald/Lance Klusener-misverstand plaasgevind en in een oomblik van waansin het Australië vir die WB-eindstryd gekwalifiseer.

Hoewel gister se gebeure nie so dramaties soos 20 jaar gelede was nie, het die Proteas weer eens ’n wedstryd in die laaste boulbeurt van ’n Birmingham-kragmeting verloor, toe Nieu-Seeland hulle met vier paaltjies getroef het. Daar was drie balle in die wedstryd oor.

Die Proteas kon die Kiwi’s laas in 1999 in ’n WB-toernooi wen. Die Swartpette het die Suid-Afrikaners boonop in 2011 en 2015 uit die skouspel geboender; ’n tikkie geskiedenis wat homself waarskynlik weer gister herhaal het.

Op ’n bruin Edgbaston-kolfblad het die Protea-kolwers gesukkel; met net Hashim Amla (55) en Rassie van der Dussen (67*) wat noemenswaardige bydraes gemaak het.

’n Telling van 241/6 in 50 boulbeurte was altyd moeilikheidsoek teen die onoorwonne Kiwi’s.

Amla is gekritiseer vir sy stadige kolfwerk – hy het sy lopies van 83 balle geslaan – maar selfs Nieu-Seeland se Kane Williamson het sy honderdtal teen ’n treftempo van 76 geslaan.

Die 36-jarige Protea was saam met Van der Dussen die gom wat die SA kolflys aanmekaargehou het; met Quinton de Kock (5), Faf du Plessis (23), Aiden Markram (38) en David Miller (36) wat hul paaltjies op onnodige tye verloor het.

Chris Morris (3/49) en Kagiso Rabada (1/42) het hul bes met die bal gedoen, maar verskeie verspeelde kanse het die span kwaai gekniehalter.

David Miller het ’n maklike uithardloop-geleentheid verbrou, terwyl Quinton de Kock nie ’n vangkans van Imran Tahir se boulwerk na die TV-skeidsregter verwys het nie.

Op die grootskerm kon mens sien hoe die bal Kane Williamson se buiterand getref het.

“Dit is moeilik … Ons het vandag ons beste op die veld gegee en dit is al wat ek as kaptein van die span kan verwag,” het Faf du Plessis gesê.

“Ek is natuurlik ongelooflik teleurgesteld. Krieket beteken baie vir my en hierdie span se vertoning beteken ook baie vir my. Maar ek kan nie, wanneer ons wedstryde verloor, in die teenoorgestelde rigting begin hardloop nie.”

Du Plessis het bygevoeg die span sal aanhou veg en hul beste lewer in die komende wedstryde.

Die Proteas moet nog teen Pakistan, Sri Lanka en Australië speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gatvol

My opinie het hulle werklik probeer. Hulle is egter nie sterk genoeg om die beter spanne te troef nie. Miskien met die volgende wereldbeker, indien die dooie hout uitgesny word en n afrigter wat nie nonsens vat nie en nie net daar is om te skep nie.

JA NEE

Verkeerde span keuses- Beter speller het agter gebly in SA

CallieL

En hulle wou AB vir belaglike redes nie kies nie. Rugby is op dieselfde afdraand, ook besig om van die pad af te hardloop. Sleg omdit te doen maar baie gaan dit so stel, “told u so”.

d

kan ook nie verwag om goeie tellings te kry met 2 van die eerste 3 kolwers wat teen ‘n treftempo van minder as 70% kolf, veral as die 3e een met ‘n treftempo van 90+ vroeg uit is.

Slimjan

Moet ons nie dalk kyk na ons kwaliteit van krieket op plaaslike vlak nie? Ons kan kla oor die Proteas soveel soos ons wil, maar as dit die beste spelers is, dan moet ons dalk kyk na die strukture wat die spelers moet voorberei. Kyk na ons spelers, hulle doen goed in die plaaslike reeks. Ons standard is vrot want daar is weereens kwotas in die reeks. Die beste spelers word nie teen mekaar getoets nie!