Proteas op agtervoet na Kiwi-honderdtal en stadion-ontruiming

Keeshav Maharaj - vyf paaltjies (Foto saca.org.za)

Keeshav Maharaj – vyf paaltjies (Foto saca.org.za)

Suid-Afrika is effens op die agtervoet na dag drie van die eerste kriekettoets teen Nieu-Seeland in Dunedin wat sy kwota drama opgelewer het toe die stadion – spelers én toeskouers – ontruim  is.

Toe swak lig die vierde dag se spel beëindig het, was Suid-Afrika vyf lopies voor Nieu-Seeland met Stephen Cook reeds terug in die pawiljoen. Die Swart Pette is vir 341 uitgehaal, ʼn voorsprong van 33 lopies en die Proteas is toe op 38/1 van die veld af.

Dit was in  baie opsigte ʼn buitengewone dag se spel. Die beseerde kolwer Ross Taylor het op nommer elf kom kolf en sy span gehelp om hul neus voor die Proteas te kry; daar was glo ʼn brandalarm wat tot die stadion se ontruiming gelei het; en die kolwers moes hard werk op ʼn kolfblad wat tot hier naby die einde van die dag spel spel min opsigtelike bystand aan die boulers gegee het.

Daar was ook die ietwat bisarre voorval toe Cook met die vierde bal gestap het voordat hy uitgegee is en toe nie die verwysingstelsel versoek het nie. Nadat hy reeds van die veld was, het die einste verwysingstelsel wat die kommentaarspan toe vir bespreking nadergetrek het, duidelik gewys hy het nie die bal raakgeslaan nie.

Cook se kolf het sy beenskut getref, hy het gedink dit was die bal en het gestap nog voor sie skeidsregter sy vinger gelig het. (Dit was nogal vreemd om te sien hoe die skeidregters weens die ysige koue met hul swart handskoene die spelers uitgegee en grenshoue aangedui het.)

Dean Elgar (12 nun in 47 balle) en Hashim Amla (23 in 57 balle) het toe al hul dae gehad om hul paaltjies teen veral die draaiers Jeetan Patel en Michael Santner te beskerm maar het vir 18 beurte vasgebyt.

♦  Tot dusver was daar min wip en sywaartse beweging in die kolfblad, maar Suid-Afrika se draaiboulers Keshav Maharaj het – aangehelp deur swak houe van die Kiwi’s – sy eerste vyftal in toetskrieket behaal en 5/94 in 28.3 beurte geneem.

Al die Proteas se boulers het hulle deel gedoen, en die voorbereiding van die kolfblad verdien ʼn pluimpie.

Dit was nie maklik om op te kolf nie, maar tog is daar tot dusver twee honderdtalle en vier vyftigtalle aangeteken; en 14 van die 31 paaltjies is deur die vinnige boulers geneem en 17 deur die draaiers.

Vrydag het Vernon Philander (2/67 in 27 beurte), Morné Morkel (2/62 in 23 beurte) en Kagiso Rabada (1/92 in 30 beurte) die Kiwi-kolwers hard vir hulle lopies laat werk.

♦  Nieu-Seeland het aan die einde van die tweede dag 177/3  op die telbord gehad. Kane Williamson, wat ook in die eendagreeks ʼn probleem vir die Proteas se boulers was, het toe Vrydag voortgegaan en ʼn baie goeie 130 in meer as ses uur in 241 balle met 18 viere geslaan.

Hy is goed byegestaan deur die paaltjiewagter BK Watling (50) en Neil Wagner (32) nadat Jeet Raval Donderdag reeds sy 52 geslaan het.

Saterdag, die vierde dag, gaan dit nie maklik wees om te kolf nie. Die kolfblad het teen Vrydagmiddag reeds begin tekens toon dat die draaiers bevoordeel kan word met stoffies wat na elke bal opgeslaan het.

Met die draaiers Patel en Santner is Nieu-Seeland beter vir die toestande toegerus as die Proteas. Boonop het hulle in Boult ʼn man wat, hoewel hy eintlik ʼn naatbouler is, die vermoë het om ʼn stadiger bal te boul wat van so ʼn kolfblad af ‘sny’.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart en statistieke van die toets se eerste twee dae: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020041.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.