Proteas op koers na reeksoorwinning

Foto: Randy Brooks/AFP.

Glo dit of nie, maar die Proteas is op koers om ’n toetsreeks weg van die huis te wen. Die Suid-Afrikaners het die hef in die hand ná net twee dae se spel in die beslissende wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia.

Dean Elgar se troepe het ’n voorsprong van amper 150 lopies nadat hulle die Windies vir 149 uitgeknikker het.

Kagiso Rabada (2/24) het vir Kraigg Brathwaite van die eerste aflewering van die tuisspan se beurt terug na die kleedkamer gestuur, waarna Lungi Ngidi (2/27) en Keshav Maharaj (2/47) die temperatuur van die drukkoker hoog gehou het.

Wiaan Mulder – wat tot en met gister ’n stillerige reeks beleef het – het skielik sy stempel op die wedstryd afgedruk om binne ’n japtrap van Joshua da Silva, Kemar Roach en Jayden Seales ontslae te raak.

Mulder se spoggerige boulsyfers van 3/1 was die beste onder die Suid-Afrikaners.

Vroeër het Quinton de Kock se 96 lopies gesorg dat die Proteas 298 in hul eerste beurt kon aanteken. Die 28-jarige paaltjiewagter kolf weer met die vryheid van ouds en hy slaan sy lopies teen ’n gemiddeld van 237 in die reeks.

Die Windies het vroeër hierdie toetse as hul eerste reeksoorwinning teen die Proteas in 30 jaar geoormerk. Dit lyk egter nie of hul drome bewaarheid sal word nie.

Ja, Dean Elgar se span kan nog glad nie met Graeme Smith se troepe vergelyk word nie; terwyl die Windies ook nie ’n Indië, Engeland of Australië is nie. Maar die Proteas verdien ongetwyfeld ’n pluimpie indien hulle hierdie reeks sou wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.