Proteas op koers na sege in eerste kriekettoets

Suid-Afrika teen Sri Lanka (27 Desember 2016) Foto: ICC, Twitter

Suid-Afrika teen Sri Lanka (27 Desember 2016) Foto: ICC, Twitter

Die Proteas het Woensdag die derde dag van die eerste kriekettoets op St Georgespark teen Sri Lanka geheel en al oorheers en is nou in ʼn onaanvegbare posisie met nog twee dae se spel oor.

Op ʼn dag waar reën teen die verwagting in die spel twee keer onderbreek het, het Suid-Afrika die laaste drie paaltjies van Sri Lanka vir net 24 lopies geneem en toe teen uitskeityd 351/5 op die telbord gehad.

Dit is ʼn voorsprong van 432 lopies. Die wêreld se hoogste wentelling in die vierde beurt is Wes-Indië se 418/7 teen Australië in 2003.

Woensdag se twee vernaamste helde was Vernon Philander wat in die eerste boulbeurt van die dag twee paaltjies geneem het, insluitende dié van Dhananjaya de Silva met die heel eerste bal van die dag; en Stephen Cook, wat sy 59 in die eerste beurt met ʼn baie goeie 117 opgevolg het.

♦  Philander het uiteindelik met 5/45 geëindig – die elfde keer dat hy vyf paaltjies in ʼn kolfbeurt neem. Hy is nou agtste op die SA lys en sy gemiddelde van ʼn raps oor 21 lopies per paaltjie is die beste van die voorste 12 boulers op die lys.

♦  Cook het aanvanklik hard gewerk en gekonsentreer en benewens ʼn kans op 62 was hy onversteurd. Hy was, soos altyd, baie sterk aan die bykant, maar het verras met sy heelwat goeie dryfhoue deur die dekveld en het hoe later hoe kwater gekolf.

Saam met Hashim Amla, wat na sy lopiedroogte soos die Amla van ouds gelyk het met sy 48 lopies in 53 balle, het Cook 105 lopies in 19 beurte teen meer as 5,5 lopies per boulbeurt om die tweede paaltjie aangeteken.

Amla is met die laaste bal voor teetyd uit. Hy was die 10 000ste bvp-slagoffer sedert Australië en Engeland in Maart 1877 in die eerste kriekettoets in Melbourne gespeel het.

Cook, wat glo op die randjie van weglating was voordat hy in die onlangse derde toets teen Australië 40 en 104 aangeteken het, het nou na 11 toetsbeurte drie honderdtalle en twee vyftigtalle aangeteken.

♦  Een van die Proteas se vernaamste probleme, die aanvangspaar, is nou opgelos. Dean Elgar het die tweede keer in hierdie toets saam met Cook ʼn aanvangsvennootskap van meer as 100 lopies daargestel. Hy is op 117 met sy telling op 52 uitgevang toe hy ʼn inswaaiende opslagbal probeer haak het en te na aan sy lyf moes speel.

JP Duminy het ʼn goeie 25 aangeteken en Temba Bavuma is op vreemde wyse uit – al was hy nie uit nie! Hy het Rangana Herath na die bykant probeer draai, sy beenskut raakgeslaan en die bal het, ook van die beenskut af, in die hande van die kortby-veldwerker beland. Bavuma het gestap nog voor die skeidsregter sy vinger kon lig – maar sy kolf was goed 10 cm van die bal en dit is deur die tegnologie bevestig.

Die raakslaan van sy beenskut het hom laat dink hy het met die bal kontak gemaak – en met nog ʼn enkelsyfer-telling in die toets is hy nou onder druk.

Faf du Plessis, 41 in 55 balle, en Quinton de Kock, 42 in 51 balle, was met uitskeityd voor die penne met flink kolfwerk. Suid-Afrika se lopies is teen 4,39 lopies per boulbeurt aangeteken.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 286 (Kolwers: Stephen Cook 59, Dean Elgar 45, Hashim Amla 20, JP Duminy 63, Faf du Plessis 37, Temba Bavuma 5, Quinton de Kock 37, Vernon Philander 13. Boulers: Suranga Lakmal 5/63, Rangana Herath 2/48, Nuwan Pradeep 2/66)

Sri Lanka (eerste beurt): 205 (Kolwers: Angelo Mathews 39, Dinesh Chandimal 28, Dhananjaya de Silva 43, Rangana Herath 24. Boulers: Vernon Philander 5/45, Kyle Abbott 3/63, Kagiso Rabada 1/63, Keshav Maharaj 1/30)

Suid-Afrika (tweede beurt): 351/5 (Kolwers: Dean Elgar 52, Hashim Amla 48, Stephen Cook 117, JP Duminy 25, Temba Bavuma 8, Faf du Plessis 41*, Quinton de Kock 42*. Boulers: Dhananjaya de Silva 2/74)

Na die derde dag se spel is Suid-Afrika 432 lopies voor met vyf tweedebeurt-paaltjies nog staande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.