Proteas ploeter voort in Durban

Proteas

Australië het op die derde dag van die eerste toets in Durban sy goeie vertoning voortgesit terwyl die Proteas lomp voorgekom het, maar tog beter as op die tweede dag gevaar het.

Suid-Afrika sal meer as 400 lopies in die twee oorblywende dae moet aanteken om enigsins ʼn seggenskap in die uitslag te hê. Dit gaan bykans ontmoontlik wees gegewe die feit dat die kolfblad reeds op die derde dag dit moeilik gemaak het vir die kolwers om met gemak lopies aan te teken.

Die Aussies het hul tweede beurt Saterdagoggend begin nadat die Proteas vir net 162 (51,4 bb) in hul eerste beurt uitgehaal is. Die Aussies se voorsprong op die eerste beurt was 189 lopies nadat hulle 351 in hul eerste beurt aangeteken het.

Australië het stadig maar bestendig in sy tweede beurt gekolf en teen teetyd was hulle op 175/6 (54,5 bb). Hul voorsprong was toe reeds 364 lopies met nog 4 paaltjies staande.

Spel is soos op die eerste dag weer om 16:30 deur swak lig onderbreek. Australië was toe op 213/9. Dit gee aan Australië ʼn totale voorsprong van 402 lopies met een paaltjie staande. Met die kolf het Bancroft 53 en Smith 38 lopies bygedra.

Op dié dag was Morne Morkel die suksesvolste bouler vir Suid-Afrika. Morkel het 3 paaltjies vir 42 platgetrek. Keshav Maharaj het sy 5 paaltjies in die eerste beurt met 3 vir 93 in 28 boulbeurte in die tweede beurt opgevolg.

Suid-Afrika is met sy rug teen die muur en sal buitengewoon goed moet vaar om nie ʼn groot loesing op die lyf te loop nie.

In die geheel gesien is die Aussies in beheer van die wedstryd en hulle sal baie tevrede wees met hul vertoning.

Spel vir die derde dag is geskeduleer om Sondag om 10:00 op Kingsmead in Durban te begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet de Jager ·

Dis nie dalk die VIERDE dag se spel wat Sondag begin nie ??????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.