Proteas raak pad byster na hulle op koers was

Suid-Afrika het die eerste van sy drie eendaagse wedstryde teen Engeland Woensdagaand op Headingley, Leeds, sleg verloor nadat veral die kolwers teleurgestel het.

Die Proteas is almal binne 45 boulbeurte vir 267 uitgehaal in hulle soeke om 340 lopies op ʼn hondmak-kolfblad aan te teken.

Hulle verloor dus met 72 lopies.

In al drie fasette van die wedstryd was daar vroeë belofte vir AB de Villiers-hulle. Hulle het ʼn vroeë paaltjie geneem, die eerste driekwart van die Engelse kolfbeurt goeie grondveldwerk gedoen en op 145/1 gelyk of hulle op koers is na die benodigde 340 lopies.

Die veldwerk het egter verswak, in dié mate dat selfs AB de Villiers ʼn bal tussen sy bene laat deurskiet het; die Engelse het twee vennootskappe van 98 en 117 daargestel nadat hulle 3/1 en later 122/3 was, en Suid-Afrika het in duie gestort nadat Hashim Amla en Faf du Plessis ná ʼn vennootskap van 112 binne vier lopies van  mekaar uit is.

Quinton de Kock is op 33/1 vir vyf lopies uitgehaal, wéér met ʼn haakhou wat die borand gevang het; toe is Amla vir 73 uit (agt viere, 76 balle) nadat hy en Du Plessis die telling tot 145 gevoer het, maar met die twee skoolmaats van Affies, De Villiers en Du Plessis, bymekaar was daar nog geen rede tot paniek nie.

Du Plessis is egter kort ná Amla uit. Hy het 67 aangeteken, was 61 balle daar en het agt viere geslaan. Op 149/3 was die Proteas nog op koers, maar dit het moeilikheid voorspel toe JP Duminy vir 15 op 182/4 uitgehaal is.

Met sowat sewe lopies per beurt wat nog benodig is, het David Miller (11) net begin lyk of hy sy voete vind toe hy in die buiteveld uitgevang is. Chris Morris het nie gehou nie, en toe Wayne Parnell op 216/6 inkom het De Villiers begin oopmaak met feitlik nege lopies per beurt wat benodig is.

Hy is egter vroeg in hierdie jaagtog halfpad diepby-grens toe uitgevang en daarna was dit bloot ʼn frustrerende vasbyt om die eer van die steelkant-manne wat die wedstryd aan die gang gehou het.

Kagiso Rabada en Parnell se 19 lopies elk is albei op 267 uit. Dit het ʼn teleurstellende kolfbeurt gebring waar te veel paaltjies maklik prysgegee is.

Veral Chris Woakes het hierdie ongedissiplineerde kolfwerk uitgebuit en 4/38 in agt beurte geneem.

Vir Engeland het sy kaptein Eoin Morgan ʼn skitterende 107 aangeteken. Hy is goed bygestaan deur Joe Root (37) en Alex Hales (61) wat die Engelse beurt op koers gekry het nadat hulle op 3/1 bymekaargekom het; en ook Moeen Ali, wie se onoorwonne 77 in 51 balle vyf sesse en vyf viere ingesluit het.

Die Proteas se boulwerk was vir die eerste 40 of so boulbeurte heel skaflik, maar Rabada het met sy ritme gesukkel en het op die mak blad weinig bedreiging vir die kolwers ingehou. Tahir is in een beurt vir 22 lopies gestraf en het 7,55 lopies per beurt in sy nege beurte afgestaan.

Vir die volledige telkaart klik op http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031425.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.