Proteas sal moet wen en góéd wen

Temba Bavuma. Foto: Hansie Linde.

In 2021 het die Proteas vier van hul vyf T20-Wêreldbekerwedstryde gewen, maar hulle kon steeds nie vir die halfeindstryde kwalifiseer nie.

Stadige kolfwerk toe die versnelpedaal juis plat getrap moes gewees het, was een van die hoofredes vir nóg ʼn teleurstelling by ʼn groot internasionale uitkloptoernooi.

Volgens Temba Bavuma wil die Suid-Afrikaners vanjaar uit hul foute leer.

Die Proteas speel môre in hul openingswedstryd van die 2022-Wêreldbeker teen ʼn begeesterde Zimbabwiese span wat onder meer met Ierland en Skotland afgereken het om na die Super 12-fase van die toernooi deur te dring.

En moet asseblief nie dink dat dit die Proteas ʼn boulbeurt of twee of selfs drie gaan nie neem om hul voete te vind nie. Aikôna, hulle sal vanuit die staanspoor op alle suiers moet vuur.

“ ʼn Mens wil so goed as moontlik speel, maar terselfdertyd moet jy ook ʼn ogie op die netto lopietempo hou. As daar ʼn geleentheid is om die uitklophou te plant, moet jy dit beslis doen,” het die Proteas se witbalkrieketkaptein gesê.

Dit is egter nie net die tempo waarteen die Proteas hul lopies aanteken wat onder die vergrootglas sal wees nie, maar ook Bavuma se eie vertoning met die wilgerlat.

Die 32-jarige kolwer het in 2022 ongetwyfeld – en om vir wyle koningin Elizabeth II aan te haal – sy annus horribilis met die kolf in hand.

In sewe internasionale T20-wedstryde vir die Proteas kon hy nog slegs 64 lopies teen ʼn treftempo van 82 aanteken; kwalik die adrenalien-inspuiting waarvoor die Suid-Afrikaners aan die begin van hul beurt soek.

Volgens Bavuma sal hy egter sy bes doen om in die drukkokersituasie staande te bly; wanneer ʼn internasionale kaptein met sy spelpeil sukkel, haal dit immers gereeld die hoofopskrifte.

“Alle oë is op jou. Daar is baie meer kritiek oor jou vertonings en jou leierskap. Kritiek en kapteinskap loop hand aan hand en dit is nie iets waarvan jy kan wegskram nie.”

AB de Villiers het vroeër gesê dat Bavuma op die regte tyd en plek sy spelpeil sal herwin. Nou ja, kom ons hou duim vas dat dit in môre se wedstryd teen Zimbabwe sal gebeur.

Anders wink daar net nóg ʼn teleurstelling vir die Proteas.

Die wedstryd begin om 10:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wit Leeu ·

Nou wat soek hy nog in die span………………… Tyd om te gaan ! Hy is uit vorm !

George ·

As ons hom solank in die T20 span hou soos wat Markram toets kanse kry, sal hy speel tot 2027.

Frank ·

Bavuma, moet asb nie te veel lees in ‘n redelike telling teen ZIMBABWE nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.