Proteas sal wil wys hoe goed hul régtig is

Quinton de Kock (Foto: Cricket South Africa, Facebook)

Quinton de Kock (Foto: Cricket South Africa, Facebook)

Ná die derde opeenvolgende reeksoorwinning van die Proteas oor die Aussies in Australië kry hulle van Maandag af op St Georgespark in Port Elizabeth die kans om teen Sri Lanka te wys dat die span inderwaarheid ʼn nuwe opwindende era betree.

Die vraag is hoe goed óf gemiddeld die Aussies in die eerste twee toetse oorsee was en hoeveel waarde dus aan die reeksoorwinning gegee moet word. Maar ʼn wen is darem ook seker ʼn wen – en die loesing wat Nieu-Seeland voor dit in Suid-Afrika op die lyf geloop het, beklemtoon dat iets aan’t gebeur is.

Hoe sterk is Sri Lanka? Hulle is in ʼn herbou-stadium, en het boonop nie ʼn wafferse rekord in Suid-Afrika nie. Hulle het slegs een toets – met hulle laaste besoek in 2012 – gewen, agt keer verloor en een toets was onbeslis. Vier van hulle neerlae was met ʼn beurt.

♦  Die eerste toets sal Maandag, 26 Desember 2016, op ʼn St. Georgespark-kolfblad met heelwat gras begin, wil dit lyk. Die verwagting is egter dat die berugte Oos-Kaapse wind, wat veral Saterdag kwaai gewaai het, die bietjie vog in die gras sal uitdroog.

Dit behoort dus maar weer die ou-ou kolfblad van St Georgespark te wees, sonder veel wip, met paaltjies wat waarskynlik eerder deur bvp’s en die skoonboul van kolwers sal val as met vangskote agter die penne.

Die Sri Lankane het, soos Suid-Afrika, ʼn hele klomp onervare toetsspelers. Maar die kaptein Angelo Mathews – mits hy sy rits spierbeserings afgeskud het en kan speel – Dinesh Chandamal wat ʼn soliede kolwer is wat meer as 30 toetse agter die blad het, en Rangana Herath, is die ruggraat van die span.

Herath (derde) is die voorste bouler van albei spanne op die IKR se ranglys en het in sy ses toetse teen Suid-Afrika 25 paaltjies platgetrek.

♦  Uit Suid-Afrika se oogpunt sal dit interessant wees om te sien of Wayne Parnell, wat feitlik drie jaar laas in ʼn toets gespeel het, bo Kyle Abbott as een van die drietal vinnige boulers gekies sal word.

Parnell se vorm kan tot dusver net op grond van beperkte boulbeurt-wedstryde beoordeel word.

Of dit genoeg is om die konstant-knaende Abbott te vervang, maak nie sin nie. Laasgenoemde het teen die Aussies 13 paaltjies teen net oor die 14 lopies elk geneem en vul Rabada en Philander uitstekend aan.

♦  Mathews het reeds gesê die reeks gaan van sy kolwers afhang. Sy boulers, meen hy, sal hulle ding doen.

Die kolwers het baie hard gewerk en op kunsmatige granietblaaie geoefen om die wip in Suid-Afrika te probeer naboots, maar nou speel hulle op St Georgespark, en gaan dit eerder geduld en toewyding wees wat van die kolwers geverg word as die buitengewone wip van die bal.

Die spanne sal Maandag voor die toets se aanvang uit die volgende twee groepe gekies word:

Proteas
Faf du Plessis (kapt.), Kyle Abbott, Hashim Amla, Temba Bavuma, Stephen Cook, Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, JP Duminy, Dean Elgar, Keshav Maharaj, Wayne Parnell, Vernon Philander, Kagiso Rabada

Sri Lanka
Angelo Mathews (kapt.), Dinesh Chandimal, Dimuth Karunaratne, Kaushal Silva, Kusal Perera, Dhananjaya de Silva, Kusal Mendis, Upul Tharanga, Dushmantha Chameera, Suranga Lakmal, Lahiru Kumara, Nuwan Pradeep, Vikum Sanjaya Bandara, Rangana Herath, Dilruwan Perera

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Dankie Alida, jy het ‘n passie vir sport, jy kan maar skryf. Ongelukkig is dit so dat meeste Afrikaners het vandag hul passie vir die sport verloor. Toenterjare was stadions volgepak, ek was daar in Bellville toe Div Lampbrecht die eerste sub 4 min myl in SA gehardloop het, ons het daar baie Vrydag aande na fietry gaan kyk, Wielle Wentzel, wie sal hom ooit vergeet. Wie onthou Ewald Bonzet op die baan, bykans alle SA rekords van 800m tot 10 km gehou ?

En dan sal ek die naam Thea Kitshof nie vergeet nie. Sy was in DF en sy kon maar 800. Thea ek salueer jou.

Jan ·

Ons sit daardie dag in die DF saal en skryf eind-eksamen, dit bly tot vandag toe in my kop.

Jan ·

Skuus, maar natuurlik het Div die eerste droommyl op Coetzenburg gehardloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.