Proteas se boulers dien Aussies nekslag toe

Foto: AP Photo/Rob Griffith

Foto: AP Photo/Rob Griffith

Suid-Afrika het Australië Dinsdagoggend voor etenstyd ʼn vernederende neerlaag toegedien deur die tweede kriekettoets met ʼn beurt en 80 lopies te wen.

Daarmee het die Proteas hulle derde opeenvolgende reeks in Australië beklink.

Australië, wat op 121/2 in hulle tweede beurt kom voortkolf het, het heeltemal in duie gestort en is vir 161 uitgehaal ná ʼn trietsige 85 in die eerste kolfbeurt.

Dit was ʼn oggend wat eintlik hoofsaaklik deur syfers weerspieël kan word, met speler van die wedstryd Kyle Abbot (6/77) en Kagiso Rabada (4/34) wat die paaltjies geneem het en Vernon Philander (0/31 in 16 beurte) wat die Aussies tot die dood toe met sy akkurate boulwerk gefrustreer het.

Die Aussies het Dinsdag agt paaltjies vir 32 lopies verloor nadat hulle op 129/2 steeds aan die terugveg was, maar deur die akkurate boulwerk van veral Philander gesmoor is. Hy het in een stadium 30 balle geboul sonder om ʼn lopie af te staan.

Toe het Abbot en Kagiso toegeslaan. Die laaste vyf paaltjies het vir net 11 lopies gekantel, van 150/5 af.

Ander interessante feite en syfers is:

♦  Die wedstryd het slegs 193,1 boulbeurte geduur. Dit is twee dae en 13,1 beurte as daar elke dag 90 beurte geboul word, soos voorgeskryf word. Reën en swak lig het egter ʼn hele dag se spel in die slag laat bly; dié dat die nekslag eers op die vierde dag toegedien is.

♦  Australië het in twee voltooide kolfbeurte slegs 93 boulbeurte, oftewel 558 balle, gekolf. Dit is die minste sedert 1928 in die toets waarin die grootste kolwer van alle tye, Don Bradman, sy debuut gemaak het.

♦  Australië het ná hulle 5-0-reeksneerlaag in eendaagse wedstryde in Suid-Afrika met hierdie twee neerlae nou ook vyf opeenvolgende toetse verloor.

♦  Die Proteas het die reeks sonder hulle kaptein en voorste kolwer, AB de Villiers, en ook grootliks sonder hulle voorste bouler, Dale Steyn, gewen. Steyn is in die eerste toets in die Aussies se eerste (katastrofiese) kolfbeurt van die veld af.

Opgesomde telkaart

Australië (eerste beurt) 85 (Kolwers: Steve Smith 48*, Joe Mennie 10. Boulers: Vernon Philander 5/21, Kyle Abbott 3/41, Kagiso Rabada 1/20.)

Suid-Afrika (eerste beurt) 326 (Kolwers: Stephen Cook 23, Dean Elgar 17, Hashim Amla 47, JP Duminy 1, Faf du Plessis 7, Temba Bavuma 74, Quintin de Kock 104, Vernon Philander 32. Boulers: Mitchell Starc 3/79, Josh Hazlewood 6/89, Joe Mennie 1/85.)

Australië (tweede beurt) 161: (Kolwers: David Warner 45, Usman Khawaja 64, Steve Smith 31. Boulers: Kyle Abbot 6/77, Vernon Philander 0/31, Kagiso Rabada 4/34.)

Suid-Afrika wen met ʼn beurt en 80 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Len ·

Ons trots op ons krieket span se oorwinnings. Ten minste is daar een sport waaroor ons nog goeie oorwinnings behaal . Mooi so Proteas.

James ·

Well done,mooi proteas trots op julle die ausies het nie so ń pak slae van julle verwag nie,eers was dit die een dag reeks sommer 5 in ń ry en nou die toets.

Henk ·

Is Australie nie saam met Indie en Engeland die lande wat Internasionale krieket gekaap het nie? Dieselfde land wat nou vir maande en reeks op reeks deur die SA Proteas verneder word? Hier sal Dok Danie se woorde oor rugby goed te staan kom, moet nooit dink jy is groter as die game nie! Maar nou ja, ons weet ook almal hoe arrogant en grootbek die Australiers is!

Uiltjie ·

HENK, dis wat oorwinnings oor die Ossie’s so stroopsoet mask: Hul arrogansie! Tot hulle koerante is stil gespeel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.