Proteas se boulers verwoes Aussies in tweede kriekettoets

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Op  dag waarin die boulers oorheers het, het Suid-Afrika Saterdag, aan die einde van die eerste dag se spel in Hobart, op 171/5 ʼn voorsprong van 86 lopies gehad, nadat hulle Australië vir slegs 85 uitgehaal het.

Die tweede kriekettoets is, soos verwag, in triestige weer gespeel, maar behalwe vir ʼn kort onderbreking, het die reën weggebly.

Die klam kolfblad en die betrokke lug het die bal laat swaai en van die blad af beweeg en dit was alles behalwe die gewone kolwersparadys op ʼn eerste toetsdag in Tasmanië.

Faf du Plessis het die loot gewen en die Aussies ingestuur om te kolf – reeds ʼn aanduiding dat dit nie die tipiese Hobart-kolfblad is nie. Sy boulers het hom terdeë in die besluit ondersteun.

Vernon Philander (5/21) en Kyle Abbott (3/41) het die Aussies se beurt verwoes.

In die eerste boulbeurt het David Warner roekeloos na ʼn wye aflewering van Philander gespeel, rand bygekry en Quinton de Kock het hom agter die paaltjies uitgevang.  Abbott  het in die tweede boulbeurt vir Joe Burns beenvoor betrap met ʼn bal wat skerp van die kolfblad terugbeweeg het.

Usman Khawaja is in die negende boulbeurt in die glippe uitgevang – ʼn tweede paaltjie vir Philander. Die volgende bal van Philander het Adam Voges geklop en hy is vir nul deur De Kock uitgevang.

Australië het op 8/4 gesteier. Die nuweling, Callum Ferguson, moes Philander se driekuns-aflewering afweer om sy toetsloopbaan te begin. Hy het dit oorleef, maar is kort daar vir net drie lopies uitgehardloop met ʼn goeie ingooi van die 12de man Dane Vilas (17/5).

Vilas was op die veld omdat Philander effens beseer is toe Smith in hom vasgehardloop het en hy vir behandeling af is.

Philander se boulsyfers was toe 3/3. Hy het na ete teruggekeer om verder te boul en sy pragontleding daar te stel.

Die enigste Aussiekolwers wat dubbelsyfers kon haal was die kaptein, Steve Smith (48 nun) en die  ander nuweling, Joe Mennie (10). Smith het 48 lopies gehad toe sy laaste kolfmaat, Nathan Lyon (2), Philander se vyfde slagoffer geword het.

Kagiso Radaba het die paaltjie van Peter Nevill gekry en Kyle Abbot het Mitchell Starc en Josh Hazlewood teruggestuur paviljoen toe.

♦ Die Proteas het die omstandighede beter hanteer maar dit was steeds nie maklik nie. Teen teetyd was Suid-Afrika nietemin op 43 sonder verlies, met Stephen Cook op 23 en Dean Elgar op 17.

Mitchell Starc was na die onderbreking egter skielik ʼn ander bouler, moontlik na die Aussies in die kleedkamer die kop gewas is.

Starc het toe verwoestend geboul en Elgar en Cook se paaltjies in die eerste boulbeurt na die hervatting gekry. Toe Duminy op 46/3 volg, ook ʼn slagoffer van die blitsige en aggressiewe boulwerk van Starc, was die Proteas in die knyp.

Hashim Amla, wat uiteindelik na ʼn goeie kolfbeurt vir 47 van ʼn wye aflewering onnodig sy paaltjie verloor het, het toe saam met Du Plessis die telling tot 76/4 gevoer voordat Du Plessis vir sewe lopies beenvoor teen Hazlewood was.

Die kleine Temba Bavuma (38 nun) het saam met Amla sy soveelste stewige en waaksame beurt gespeel. Hulle het 56 lopies daargestel voordat Amla uit is en toe het Quinton de Kock (28 nun), soos altyd sommer met die intrapslag aanvallend begin speel in die ononderbroke vennootskap van 39.

♦  Die Proteas het sedert etenstyd, nadat die ligte aangeskakel is, deurgaans in swakkerige lig gekolf. Die volle 90 beurte is nietemin geboul, met die dag se spel wat 40 minute laat geëindig het.

♦  Die Proteas sal daarna mik om ʼn voorsprong van 220 daar te stel. Dis nog ʼn stywe stoot soontoe, maar dit sal dit vir die tuisspan baie moeilik maak om die toets te red, laat staan nog te wen – mits die reën nie tussenbeide tree nie.

Opgesomde telkaart, Dag 1

Australië 85 (Kolwers: Steve Smith 48*, Joe Mennie 10. Boulers: Vernon Philander 5/21, Kyle Abbott 3/41, Kagiso Rabada 1/20.)

Suid-Afrika 171/5 (Kolwers: Stephen Cook 23, Dean Elgar 17, Hashim Amla 47, JP Duminy 1, Faf du Plessis 7, Temba Bavuma 38*, Quintin de Kock 28*. Boulers: Mitchell Starc 3/49, Josh Hazlewood 2/36)

Suid-Afrika is na die eerste dag se spel, in die tweede toets, 86 lopies voor met vyf paaltjies staande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Die skielike oplewing van die Proteas maak my wonder of dit nie dalk oor kapteinskap gaan nie. ‘n Goeie speler is nie noodwendig ‘n goeie leier nie en andersom. A.B. De Villiers is ‘n fenominale sportman en blyk ook om ‘n uitsonderlike en gewilde mens te wees. Kan die Proteas se huidige suksesse nie toegeskryf word aan Faf du Plessis se leierskap nie? Dit wil net voorkom asof die beste skielik uit die Proteas gehaal word en die vasberadenheid van die span, om te presteer, is duidelik sigbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.