Proteas se kans om te vergoed

Dis wel ʼn ander soort krieket, maar tog is dit ʼn kans vir die Proteas om hul verlore aansien en gekrenkte ego’s te red.

Die reeks van drie T20-wedstryde tussen Engeland en die Proteas begin Woensdag (19:30)  in die Rose Bowl in Southampton.

Suid-Afrikaners is moontlik nog ʼn bietjie vuisvoos na die  Kampioenebeker-toernooi, maar die spelers kan nie bekostig om langer hulle wonde te lek nie.

Na die teleurstellende en ook onverwagte uittog van die Proteas – en ook Engeland – uit die reeks om die Kampioenebeker is daar baie op die spel om die gekrenkte eer en gekneusde ego’s van die spanne én individuele spelers te herstel.

Daar is ook die geleentheid vir nuwelinge om hulle kleim in die internasionale arena af te steek.  Van die voorste spelers gaan nie deelneem nie – hulle moet uitrus en fokus op die toetsreeks wat op 6 Julie op Lords in begin.

Die Proteas wat ʼn ruskans gegun is, is Hashim Amla, JP Duminy, Quinton De Kock en Kagiso Rabada en ook Faf du Plessis wat tuis wag vir die geboorte van sy eerste baba vroeg in Julie.

AB de Villiers sal ook in Julie ʼn nuwe baba ryker word wat moontlik die toetsspan sonder ʼn kaptein iewers in die reeks kan laat.

Engeland gee ook aan sy vier van sy voorste spelers  ruskans, sekerlik ook met die oog op die belangrike toetsreeks. Hulle is Joe Root, Ben Stokes, Moeen Ali en Adil Rashid.

Die Engelse span vir Woensdag se stryd oor 20 boulbeurte kan moontlik só lyk:
Jason Roy, 2 Alex Hales, 3 Sam Billings, 4 Eoin Morgan (kapt), 5 Jonny Bairstow, 6 Jos Buttler, 7 Liam Dawson, 8 Chris Jordan, 9 Tom Curran, 10 Mason Crane, 11 Mark Wood.

♦  Tabraiz Shamsi, linksdraaier en die snelbouler Dane Peterson is in die groep ingesluit. In die afwesigheid van die gebruiklike aanvangskolwers sal die relatiewe onervare JJ Smuts en Reeza Hendricks die kolfbeurt begin met AB de Villiers derde op die kolflys. Andile Phehlukwayo sal vir die eerste keer kans kry om die boulwerk te open.

Die Protea-span kan moontlik so lyk:
1 JJ Smuts, 2 Reeza Hendricks, 3 AB de Villiers (kapt), 4 David Miller, 5 Farhaan Behardien, 6 Mangaliso Mosehle, 7 Wayne Parnell, 8 Dwaine Pretorius, 9 Andile Phehlukwayo, 10 Dane Paterson, 11 Imran Tahir of Tabraiz Shamsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet de Jager ·

Julle krieketdekking is, om dit sagkens te stel, pateties. Die wedstryd is al lankal verby, maar helaas, geen dekking op MM nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.