Proteas se kanse geknou na power vertoning teen Pakistan

Suid-Afrika het straks Woensdag hulle kanse op Edgbaston verbrou om deur te dring na die uitspeelrondes van die toernooi om die Kampioenskap-trofee.

Nie eers die reën kon die Proteas red na hulle rampspoedige vertoning teen Pakistan nie.

Die wedstryd is eers om 22:45 (SA tyd) afgelas nadat die Pakistani-kolwers op 119/3 in elk geval deeglik op pad na ʼn sege was toe die reën tussenbeide getree het. Pakistan was toe 19 lopies voor op die Duckworth-Lewis formule.

♦  Die neerlaag beteken dat Suid-Afrika eenvoudig in sy laaste wedstryd teen Indië móét wen. Die Proteas het nou, soos Pakistan en Indië, elk een wedstryd gewen, maar Indië het benewens die Proteas ook nog Sri Lanka wat Donderdag op hom wag.

AB de Villiers-hulle se lot is nou in die hande van ander spanne. Klop Pakistan aanstaande week vi Sri Lanka in die twee spanne se laaste wedstryd, sal lopietempo bepaal wie deurgaan na die halfeind – mits die Proteas teen Indië wen.

♦  Suid-Afrika het die loot gewen en eerste gekolf. Hashim Amla is in die negende boulbeurt op 16 beenvoor betrap (40/1). Quinton de Kock is op 33 ook beenvoor uitgegee en Suid-Afrika se telling was na 13 boulbeurte 60/2.

Met die Affies-skoolmaats, Faf du Plessis en AB de Villiers, voor die penne, het die Protea-ondersteuners verwag dat die twee hul span gou in ʼn stewiger posisie sou plaas. Maar De Villiers is met die eerste bal uitgevang. Dit was slegs sy tweede nulletjie in eendaagse krieket.

Suid-Afrika het toe op 61/3 in die 15de boulbeurt gewankel. Du Plessis en Duminy moes daarna stap en op 118/5 was die moontlike verrassing van die agste gekeurde span wat teen die nommer een wen, besig om ʼn werklikheid  te word.

David Miller het die verantwoordelikheid op hom geneem om voor die penne te bly en die beurt te konsolideer, allermins sy gewone rol in die kolflys.

Aan die einde van die kolfbeurt was Miller nog steeds daar, die ruggraat van die Proteas se kolfbeurt. Hy het 75 lopies in 104 balle aangeteken en een vier en drie sesse geslaan teen ʼn gedissiplineerde, bestendige boulaanval wat deur onverskillige kolfwerk aangehelp is.

Die ander kolwers het gekom en gegaan. Chris Morris het vasgeskop en vir 45 balle voor die penne gebly en Miller goed ondersteun voordat hy sy paaltjie vir 28 weggesmyt het. Kagiso Rabada het goed vir sy 26 in 23 balle gekolf, maar na 50 boulbeurte was Suid-Afrika se telling ʼn teleurstellende 219/8.

Net ʼn ongelooflike boulvertoning kon die wedstryd vir hulle red.

Pakistan se eerste twee paaltjies het in die agtste boulbeurt geval. Morné Morkel het albei  paaltjies geneem en die kolwers behoorlik vasgevat. Die Pakistanse kolwers het egter nie nodig gehad om ʼn vinnige tempo te jaag nie en het rustig op pad na die teiken toe gekolf.

Morkel het die derde paaltjie, die van Mohammed Hafeez , eers in die 24ste beurt gekry. Pakistan het toe 93/3 gehad.

Met die telling op 119/3 in die 27ste boulbeurt het die reën uitgesak.

♦ Die volledige telkaart kan gesien word deur op te klik op http://www.espncricinfo.com/icc-champions-trophy-2017/engine/match/1022359.html

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fires ·

Ironies hoe AB de Villiers keer op keer die ‘choke’ knoppie trek in die betrokke kampioenskap toernooi

Frans C ·

Dit was duidelik dat Mickey Arthur vorige afrigter van die Proteas,tans by Pakistan, duidelik bewus was van Suid Afrika se swakheid teen draai boulwerk en van die kolwers se oos ongeduldigheid.

Kyk maar na de Villiers wat pleks om homself in te grawe soos Miller dadelik die bal uit die veld wou slaan en toe uitgevang is vir nul.Was dit nou werklik nodig om Parnell te speel?

Johan ·

Parnell het geen beheer oor sy boulwerk nie. Sy lyn en lengte is konstant verkeerd.

Koos1 ·

Ek het dit al in die verlede met die reeks teen Engeland gesê maar blykbaar lees die bestuur van SA Krieket nie my kommentaar nie.
Kom ek probeer weer. Sonder ‘n boul aanval (of gebrekkig soos ons nou het) kan ons nie wen nie. PUNT. Wat besiel AB om vir Parnell te laat open met die boulwerk, terwyl Mornè moet toekyk. Mornè is ons mees senior bouler en het weer gister so bewys, vir hom en Rabada gee jy die nuwe bal. Nou my tweede vraag, op gister se blad is daar al 3 wedstryde gespeel, so dit is basies ‘n blad wat 3+ dae oud is (gemeet aan toets krieket). So ‘n blad is ‘n draaier se droom, maar onse AB los ons tweede draaier (Maharaj) om water aan te dra.
Ek dink ons gaan die toernooi weer verloor, en bewaar dan die mense wat gaan sê dat die Proteas “Chokers” is.
Daar is egos in die span en daar rondom wat dink hulle is groter as die spel, en net die regstelling van dit sal die span kan red!

Charmaine ·

Kan net ons sien dat Parnell nie moet speel nie? Wil die keurders he dat ons verloor? Hoekom boul AB hom as hy sien hy sukkel. As daar reen kom, boul die ander 4 boulers. Dis onwaarskynlik dat Parnell dan weer sou ‘n kans kry. Hy lyk soos iemand wat betaal word om die wedstryd te verloor

Stoffel ·

Ons sal nooit die beker wen nie, die spel is te wisselvallig, dis soos om geld op sokker te sit.. Die een wedstryd lyk almal op hul beste en die volgende een val die een na die ander, dalk moet hulle die hele span vol kolwers maak ?

Lance ·

Met eendag krieket is Faf ń baie beter kaptein,kyk na sy veldplasing en jy sien meer lewe op die veld en hy praat meer gereeld met sy manne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.