Proteas se kaptein nou een van lang lys beseerdes

Die derde wedstryd in die laevlak-eendagreeks Sondag teen Bangladesj in Oos-Londen was net nog ʼn antiklimaks en het boonop ook ʼn laagtepunt vir die tuisspan opgelewer.

In die wedstryd wat die Proteas uiters maklik met 200 lopies gewen het, is die tuisspan se kaptein Faf du Plessis, goed op pad na sy honderdtal, van die veld gehelp met sy telling op 91 in net 67 balle.

Hy het ʼn akute laerug-spasma opgedoen, en sal aanstaande week se T20-reeks teen Bangladesj misloop.

Du Plessis se besering maak hom die tweede topkolwer wat nou beseer is. Die liesbesering  van David Miller, wat vir Du Plessis van die veld gehelp het, en die uiteenlopende beserings aan die voorste boulers soos Morné Morkel, Vernon Philander, Chris Morris, Dale Steyn, en Wayne Parnell, behoort egter vir die reeks teen Indië vroeg aanstaande jaar iets van die verlede te wees.

Daar is juis die goeie nuus dat Steyn gereed is om weer te begin speel.

♦  In die wedstryd het die Proteas besonder vinnig weggespring met Temba Bavuma (48) en Quinton de Kock (73) wat saam 119 in 17.5 boulbeurte geslaan het, en gevolg is deur Du Plessis en Aiden Markram (66 in 60 balle) wat voor Du Plessis se besering 151 lopies in 114 balle geslaan het.

Farhaan Behardien (33, 24 balle, vier viere) en Kagiso Rabada (23, 11 balle, drie viere en ʼn ses) het 34 lopies in die laaste drie boulbeurte geslaan en die Proteas tot 369/6 gevoer – hulle hoogste telling teen Bangladesj.

AB de Villiers (20) het net gelyk of hy aan die gang kom toe hy uitgehaal is.

Markram (2/18) het in Bangladesj se kolfbeurt slegs die vierde speler geword wat twee paaltjies neem en ʼn vyftigtal in sy debuutwedstryd aanteken.

Dane Paterson (3/44), Imran Tahir (2/27), en die nuweling Wian Mulder, Kagiso Rabada en Andile Phehlukwayo met een elk, het die ander paaltjies geneem.

Met Bangladesj se telling op 65/6 was die wedstryd reeds lankal in die sakkie en ʼn mens moet seker die vraag vra of hierdie gehalte internasionale spanne enige bestaansreg het – selfs al het Bangladesj, op eie bodem, onlangs ʼn toets teen Australië gewen.

♦  De Kock is as speler van die reeks aangewys en Du Plessis was Sondag se speler van die wedstryd vir sy vinnige 91 lopies.

Vir die volledige telkaart en statistieke oor die wedstryd, klik op die skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075506/South-Africa-vs-Bangladesh-3rd-ODI-bangladesh-in-south-africa-odi-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ouboet2 ·

Hoop regtig Dale Steyn gaan nie so gou weer seer kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.