Proteas se kolfbesluit boemerang sleg

Aiden Markram is vir slegs 14 lopies deur Ben Stokes uitgehaal. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Dean Elgar se besluit om eerste in Manchester te kolf het teoreties sin gemaak. Die Old Trafford-kolfblad is vatbaar vir draaiboulwerk en die Proteas het immers vir Simon Harmer en Keshav Maharaj in hul elftal vir die tweede toets teen Engeland.

Dan is die Suid-Afrikaanse toetskrieketkaptein bekend vir sy positiewe ingesteldheid en veggees; hy sou sy vertroue in Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Aiden Markram en Kyle Verreynne geplaas het om hulself reg te ruk en lopies onder moeilike omstandighede te slaan.

Om te doen wat die ander span nie verwag nie, is immers een van die sleutels tot sukses op die sportveld.

Maar helaas was dit Elgar nie beskore nie.

Die Proteas is vir ’n skamele 151 lopies deur James Anderson (wat in sy 100ste toets in Engeland speel) en Stuart Broad uitgeknikker, terwyl die Engelsmanne hul beurt later vandag op 111/3 hervat; net 40 lopies weg van die besoekers se eerstebeurttelling.

Kagiso Rabada – wat vir sy snelboulwerk in die span is – het met sy beurt van 36 die meeste lopies vir Suid-Afrika aangeteken. Dit is meer as wat Van der Dussen en Markram gesamentlik kon bymekaarskraap.

Die Suid-Afrikaanse openingsbouler het egter ná die afloop van die dag se spel Elgar se besluit om eerste te kolf onderskraag.

“As jy normaalweg met twee draaiers in jou span sit, gaan jy eerste kolf. ’n Mens kon al op die eerste dag sien dat die kolfblad besig is om uit te droog en nie meer so vinnig is nie. Simon se tweede aflewering het boonop lekker gedraai; daarom dink ek dat dit die regte besluit was om eerste stelling voor die paaltjies in te neem,” het Rabada gesê.

Tog kan die Proteas se vertoning op die eerste dag van die Old Trafford-toets met ’n universiteitstudent vergelyk word wat sy graad met lof slaag, net om by die werk uit die bus te val.

Soms werk teorie net nie in praktyk nie.

Die spel word vandag om 12:00 hervat en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 151/10 in 53,2 boulbeurte: Kagiso Rabada 36, Keegan Petersen 21, James Anderson 3/32 en Stuart Broad 3/37.

Engeland 111/3 in 28 boulbeurte: Jonny Bairstow 38*, Lungi Ngidi 1/20 en Anrich Nortjé 1/28.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Witbaard ·

Drop vir Markram en vd Dussen bietjie. Enige iemand anders is beter as hulle op die oomblik. Selfs die “tail end boulers.

George ·

Markram moes al 2 jaar terug gedrop gewees het, hy is net nie opgewasse vir Toetse nie.

George ·

Markram is eenvoudig nie goed genoeg nie. Elgar speel reeds dag 4/5 in die 4de innings waar die blad bekend is vir belaglike hoeveelheid spin. Tussen Harmer en Maharaj gaan hul 8 paaltjies neem in die 4de beurt, as dit so ver kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.