Proteas se kolwe hopelik nie ook kieries

Hy mag dalk 40 jaar oud wees, maar Imran Tahir is beslis een van die Proteas se gevaarmanne. Foto: Cricinfo.

Met Imran Tahir (40), Dale Steyn (36), Hashim Amla (36), JP Duminy (35) en Faf du Plessis (34) in die Protea-elftal, het die Suid-Afrikaners die tweede oudste span in vanjaar se Wêreldbeker in Engeland.

Die span se gemiddelde ouderdom is 30,39. Net Sri Lanka se gemiddelde ouderdom van 30,43 klop dié van die Proteas.

Hoewel daar nie so ’n groot ouderdomsverskil tussen Sri Lanka, Suid-Afrika, Australië en Indië se spanne is nie (almal is bo 30 jaar), sal Steyn, Amla, Tahir en Kie. sorg dat die Proteas waarskynlik die oudste beginelftal in die toernooi het.

Die bogenoemde vyf Protea-spelers het egter meer as 700 gesamentlike eendagwedstryde agter die blad en groentjies soos Lungi Ngidi, Kagiso Rabada (in ’n mindere mate), Rassie van der Dussen en Aiden Markram sal kwaai op hul ondervinding en kennis steun.

Dan was al vyf spelers deel van Suid-Afrika se rampspoedige 2015-halfeindstrydkragmeting teen Nieu-Seeland, toe Grant Elliot ’n ses van Steyn se boulwerk geslaan het om die wedstryd vir die Kiwi’s te beklink. Hulle sal dus oorgehaal wees om die bordjies te verhang.

Amla begin juis weer soort van sy spelpeil van ouds terugkry – twee vyftigtalle maak egter nie van jou Donald Bradman nie – terwyl ʼn mens hoop dat Steyn se skouer tien boulbeurte per wedstryd sal kan akkommodeer.

  • Engeland, die Proteas se eerste teenstanders, het die vyfde jongste span in die toernooi. Die gemiddelde ouderdom van Eoin Morgan se troepe is 29,3 jaar.

 

  • Die gemiddelde ouderdom van elke span (soos deur www.cricinfo.com opgestel):

Sri Lanka (30,43 jaar)

Suid-Afrika (30,39 jaar)

Australië (30,34 jaar)

Indië (30,06 jaar)

Nieu-Seeland (29,59 jaar)

Engeland (29,3 jaar)

Wes-Indië (28,49 jaar)

Pakistan (27,92 jaar)

Bangladesj (27,79 jaar)

Afganistan (27,7 jaar)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ai ·

Hehe ou wel vat maar die brille en pille en rolstoele saam wereld beker toe…Wie weet miskien kan die klomp oupas die knoop deur hak…Maar ek dink nie so nie..Terug ouetehuis toe daarna al so stert tussen bene…..

Nico ·

Amla en Steyn het al in die vorige wêreldbeker gewys hul tyd is uitgedien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.