Proteas se kolwers én boulers trap klei

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika is Donderdag in Perth, op die eerste dag van die eerste toets teen Australië, vir 242 uitgeboul, nadat Faf du Plessis die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

Teen uitskeityd het die Aussies reeds 105 sonder verlies op die telbord gehad.

Die Waca-kolfblad het, soos verwag is, heelwat hulp aan die snelboulers gegee en Mitchell Starc (vier paaltjies) en Josh Hazlewood (drie) het dit met gedissiplineerde boulwerk deeglik benut.

Die Proteas het hul eerste drie paaltjies binne agt boulbeurte vir 20 lopies verloor en vier beurte later het die vierde op 32 gespat.

Die toets het rampspoedig vir Suid-Afrika begin met die eerste paaltjie, dié van Steven Cook, wat in Starc se eerste boulbeurt op nul geval het. Amla is ook vir nul uitgehaal en daarna het Dean Elgar (12) en JP Duminy (11) toe ook die lang pad kleedkamer toe gevolg.

Du Plessis en Temba Bavuma het met hul vennootskap van 49 lopies effense stabiliteit gebring, voordat Du Plessis, wat stewig gekolf het, op 81/5 vir 37 lopies uitgehaal is.

Quinton de Kock het by Bavuma aangesluit en hul vennootskap van 71 het Suid-Afrika se telkaart ʼn bietjie beter laat lyk. Bavuma het goed gekolf en 51 lopies in 86 balle aangeteken.

De Kock het ook saam met die toetsdebutant, Keshav Maharaj (16), ʼn vinnige vennootskap van 48 om die agtste paaltjie daargestel, maar soos die ander belowende vennootskappe, het hierdie een ook heeltemal te vroeg ten einde geloop.

Die ligpunt in die Suid-Afrikaanse kolfbeurt, De Kock, het die gevaar geloop om sonder kolfmaats te eindig en is na sy uitstekende beurt van 84 lopies in 101 balle op die grens uitgevang.

♦  Australië se kolfbeurt het baie goed begin. David Warner het die boulwerk aangeval en met die einde van die spel vir die dag, reeds 73 onoorwonne lopies (62 balle) geslaan. Maar as Vernon Philander nie oorgetrap het nie, kon Warner met sy telling op 17 uit gewees het.

Shaun Marsh (29 nun) het Warner goed ondersteun en hulle het 105 sonder verlies in net 21 boulbeurte teen vyf lopies per beurt aangeteken.  Die Aussies is nog 137 lopies agter Suid-Afrika se totaal.

Waar dissipline die wagwoord van die Aussies se boulers was, het die Suid-Afrikaanse boulers veral met hulle lengte gesukkel.

Opgesomde telkaart:
Australië 105/0 (David Warner 73*, Shaun Marsh 29*)
Suid-Afrika 242 (Quinton de Kock 84, Temba Bavuma 51, Faf du Plessis 37, Mitchell Starc 4/71, Josh Hazlewood 3/70)

Australië is 137 lopies agter met al tien paaltjies staande

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CF ·

Ek wens regtig Dale Steyn wil nou uittree. Ek dink sy loopbaan het ten einde geloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.