Proteas se kolwers oorheers teen Bangladesj

Dean Elgar – die meeste toetslopies vanjaar (Foto twitter @officialcsa)

Die eerste dag van die tweetoets-reeks teen Bangladesj was Donderdag een lang hoogtepunt met net ʼn enkele werklike laagtepunt op Senwespark in Potchefstroom.

Die toetsreeks het met ʼn onverklaarbare besluit van Bangladesj se kaptein Mushfiqur Rahim begin om die Proteas op ʼn hondmak-kolfblad in te stuur en het op 298/1 geëindig.

Daardie enkele paaltjie in 90 boulbeurte was die dag se laagtepunt. Dit was die uithardloop van die debutant Aiden Markram wat binne drie lopies van die droom en mylpaal van ʼn honderdtal in ʼn debuutbeurt gekom het.

Sy 97 lopies het in die laaste boulbeurt voor teetyd tot ʼn einde gekom toe hy te vinnig uit sy blokke was om sy kolfmaat, en ook vriend en spanmaat by die Titans, Dean Elgar te help om sý honderdste lopie te hardloop.

Hulle vennootskap van 196 lopies was die grootste aanvangsvennootskap in nege jaar deur die Proteas. Markram het 13 viere in sy 152 balle voor die paaltjies geslaan.

Terwyl die fokus na die eerste dag op Elgar moet wees wat na die dag se 90 boulbeurte onoorwonne op 128 was, moet ʼn mens darem die volgende oor die jong Markram sê: hier kom ʼn grote.

Te vroeg praat, miskien? Dalk, maar sy bewese rekord op ander vlakke vir die SA o.19s en SA A-span, sy pragtige kolftegniek, sy ontspanne kolfstyl en natuurlike talent, tesame met ʼn nederige kop op sy skouers, dui op sommer ʼn baie blink toekoms.

Elgar het met sy beurt vanjaar se voorste lopiemaker in toetskrieket geword (895 lopies, vier honderdtal en vier vyftigtalle in 18 beurte). Hy het aanvanklik so ʼn tikkie vinniger as Markram gekolf, het effens teruggesak en uiteindelik na ʼn stadiger laaste sessie op 128 geëindig.

Elgar het 285 balle trotseer en nege viere en twee sesse geslaan. Sy honderdtal  het in 176 balle gekom.

Dit was Elgar se negende toetshonderdtal, en sy bestendigheid en veggees sal verseker dat dit nie sy laaste sal wees nie.

♦  Hashim Amla het stewig gekolf, soos ʼn mens weet hy kan, en het 68 lopies in sy presies honderd-vennootskap met Elgar aangeteken wat net 29 lopies daartoe bygedra het.

Wat met die kolfblad vorentoe wag, sal die tyd leer. Al is die besoekers, wat verlede maand op eie bodem vir Australië geklop het, selde oortuigend weg van die huis af, kan dit dalk ʼn taamlike geswoeg vir die Proteas afgee om hulle twee keer uit te haal.

Maar dis krieket … en enigiets is natuurlik moontlik.

Klik hier vir alle inligting en statistiek van die toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.