Proteas se laaste kans om vir T20-beker te slyp

Lungi Ngidi sal saam met Quinton de Kock en David Miller terug wees vir die T20-wedstryde. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Drie van die Proteas se sterre sal die eendagwedstryde teen Sri Lanka misloop, maar hulle keer wel terug vir die daaropvolgende T20-reeks.

Quinton de Kock verdien ’n blaaskans, David Miller sukkel met ’n dyspierbesering en Lungi Ngidi sal die 50-boulbeurtwedstryde om persoonlike redes misloop.

Die Proteas sal vroeg in September drie eendagwedstryde en drie T20-kragmetings teen die eilandmanne speel.

Goeie nuus is dat Dwaine Pretorius terug is vir al twee reekse nadat hy van Covid-19 herstel het. Die 32-jarige veelsydige speler het in een van sy meer onlangse internasionale wedstryde 5/17 teen Pakistan geneem, terwyl sy aanvallende kolfwerk van hom ’n gedugte teenstander in die spel se korter formate maak.

Die Protea-kolflys is deesdae ’n brose ding. Wanneer Quinton de Kock, Janneman Malan of Aiden Markram nie lopies slaan nie, bied die ander kolwers nie veel weerstand nie. Mark Boucher (afrigter) sal hoop dat Pretorius (as hy gekies word) vir die nodige bestendigheid sal sorg.

Dwaine Pretorius in aksie. Foto: Christiaan Kotze/AFP

Andile Phehlukwayo is egter nie deel van die T20-groep nie wat beteken dat Pretorius en Wiaan Mulder in die binnebaan is om die plek van ’n veelsydige speler in die elftal te vul.

Die komende T20-wedstryde sal die Suid-Afrikaners se laaste internasionale voorbereidingsreeks vóór die T20-wêreldbeker wees.

Eendagkrieketgroep: Temba Bavuma (kaptein), Junior Dala, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Line, Janneman Malan, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen, Kyle Verreyne en Lizaad Williams.

T20-goep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock,  Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Keshav Maharaj, Sisanda Magala, Aiden Markram, David Miller, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen en Lizaad Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.